13 WANNEER KOM CHRISTUS

DIE SALIGE HOOP

14 BEHEPTHEID MET DIE EINDTYD ?

15 DIE REGTERSTOEL VAN CHRISTUS

16 DIE SEWENDE DAG - DIE 1000 JAAR VAN VREDE

17 DIE WERKLIKHEID VAN DIE HEL !

18 DIE HEERLIKHEID VAN DIE HEMEL

UITNODIGING NA DIE BRUILOF

BIBLIOGRAFIE

INFORMASIE EN HULPMIDDELS

 

 

Terug na begin

 

 

13

 

 

WANNEER KOM CHRISTUS ?

 

 

Daar is vandag baie onsekerheid en onduidelikheid by baie kinders van God oor presies wanneer die Here gaan kom om sy bruid te kom haal. Hier bedoel ons nie die presiese dag en uur nie - dit weet niemand nie - maar ons praat van die volgorde van die eindgebeure. Baie Christene is egter van mening dat die presiese volgorde van die laaste oomblikke op aarde nie vir hulle belangrik is nie. Hulle meen ons moet 'net reg' wees.

Ander glo weer dat dit onmoontlik is om te kan weet wat God nou eintlik vir ons oor die einde wil sê. Hulle meen dat ons nie so diep in die Woord moet gaan delf nie (die Satan glo veral ook so), want dan kan ons dalk deurmekaar raak, sê hulle. Eintlik is die teendeel waar. As jy die Woord van God nie ken nie, sal jy soveel makliker verward raak en daarby ook sonder 'n ware en vaste hoop wees. Die Satan is juis ook die een wat oral verwarring saai en allermins bring die Woord van God mense in verwarring. Nee, dit bring ‘n einde aan die verwarring. Dit "gee lig" en "maak die eenvoudiges verstandig" (Ps. 119:130). God is allermins ‘n God van verwarring, maar eerder van ‘n fyn beplande orde. Wat dan van al die verskillende sienings wat mense huldig oor verskillende sake in die Skrif? Wel, almal maak nie ewe groot erns met die Woord van God nie. Baie wil nie tyd spandeer met die Bybel nie en nog minder so in gebed tot God.

So glo talle dan ook dat daar nie so iets soos 'n wegraping is nie. Baie aanklagtes word gewoonlik hierteen ingebring. Later kyk ons meer spesifiek daarna. Daar word o.a. gesê dat dit 'n sektariese beskouing is, dat 'n vrou (doenig met die okkulte), ‘n Margaret McDonald, hierdie teorie in die vorige eeu (rondom 1830) ontwikkel het of selfs dat 'n Jesuïtiese priester uit die Rooms-Katolieke Kerk, wat in die l8de eeu geleef het, verantwoordelik was vir die verspreiding van hierdie 'leuen.' Ja, sommige reken dat dit ‘n groot leuen van die Satan self is. Ander sê weer dat mense wat in 'n wegraping glo, bang is vir die dinge wat oor die wêreld gaan kom en nou ontvlugting van die werklikheid soek. Of bogenoemde is waar of die saak het totaal en al 'n ander kant wat byna geheel en al verontagsaam word.

Kan dit wees dat diegene wat 'n wegraping verwag (die wegname van alle ware Christene - uit alle Christelike kerke en huiskerke - vanaf die aarde om Christus in die lug te ontmoet -1 Thess. 4:16,17), dalk juis die mees realistiese van alle mense is wat tans op aarde leef? Wêreldgebeure word verder in 'n Bybelse perspektief gesien pleks van in 'n menslike. Hulle glo bloot die Woord van God wat reguit en eenvoudig na die mens kom.

Daar is egter iemand wat dit wil voorkom en alles in sy vermoë doen om hierdie waarheid na 'n leuen te laat lyk. Hy wil met alles probeer verhoed dat die kinders van God hoop moet hê (wat in Christus gesetel is) en daarom die geweldige aanslae op hierdie duidelike Bybelse leerstelling. Die duiwel wil baie eerder hê dat ons hoop in hierdie wêreld moet wees. Sien, hy is die god van hierdie wêreld (2 Kor. 4:4) en wil eintlik hê dat ons hoop in hom gesetel sal wees. Die wegraping is inderdaad 'n omstrede onderwerp. Min leerstellinge in die Woord moes al soveel aanvalle deurstaan. Ja, hierdie, een van die lieflikste boodskappe in die ganse Bybel (ook absoluut relevant vir ons tyd), word deur die meeste teoloë as wensdenkery en belaglik afgemaak. Baie keer hoor of lees 'n mens ook van iemand wat smalend verklaar dat daar nie so iets soos 'n 'geheime wegraping' kan of sal wees nie. Hulle lê dan klem op die feit of dit in die 'geheim' sal kan plaasvind al dan nie.

Dit is wel so dat die mens nie hou van iets wat hom onkant kan betrap nie. Die mens wil altyd in beheer wees - van sy eie omstandighede en van dit wat rondom hom gebeur. Die onvoorsiene, onverwagte laat 'n emosie van vreesagtigheid by die mens posvat en dit moet 'altyd en ten alle koste vermy word' - al het God ook gesê daar sal verseker 'n geleentheid wees soos die wegname van sy bruid. Ja, die mens wil nooit te kenne gee dat daar werklik Iemand groter as hyself is wat alles op hierdie aarde tot in die fynste besonderhede beheer nie. Nog minder wil die wêreldling en selfs ook die wêreldse 'Christen' op 'n punt gebring word dat hy sal moet besef en erken dat hy totaal onderworpe is aan 'n almagtige lewende God wat alles vooruit beplan en voorspel het nie. Die mens met sy vrye wil is maar altyd besig om vergesigte te sien en drome te droom oor hierdie verganklike wêreld en oor 'dinge wat ek nog wil doen' ens. Ideale waarin Jesus Christus sentraal staan, is natuurlik ‘n heel ander saak. Die probleem is egter dat God baie keer gesien word as Een wat net wil inmeng en wat die pret wil kom bederf. Hulle vergeet egter so maklik dat hierdie selfde God ons geskape het en dat dit Hy is wat ons onderhou en ons, ten spyte van ons rebelse Godtergende houding, tot op hierdie oomblik nog 'n kans gee om die saak met Hom uit te maak. O ja, elke mens op aarde het 'n saak met God. In Jes. 1:18 nooi Hy elkeen uit om die saak vir ewig met Hom te kom skik.

Ons moet gereed wees, want daar gaan volgens die Skrif ‘n wegname van die ware gemeente wees en dit gaan wel 'n geheimsinnige gebeurtenis wees vir byna almal wat gaan agterbly - wat sommige ookal spottenderwys hieroor te sê het. In 1 Thess. 4:13-18 lees ons van die wegraping (later meer hieroor) en dan volg hoofstuk 5 met hierdie woorde:

"MAAR oor die tye en geleenthede broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos 'n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid - dan oorval 'n skielike verderf hulle soos die barensnood 'n swanger vrou en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie." (1 Thess. 5:1-3). Wanneer 'n dief in die nag kom, kom hy dan nie in die geheim nie? Kom hy openlik en verklaar dat hy nou hier is? Sou so 'n dief iets kon steel? Onthou verder, Jesus gaan kom soos ‘n dief en nie as ‘n dief nie !

Hierdie gebeurtenis gaan ook skielik en onverwags kom vir diegene wat Christus nie geken het nie. Net die volgende vers (4) van bg. gedeelte gaan egter voort:

"Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos 'n dief sou oorval nie." Daar is dus twee duidelik onderskeibare groepe hier teenwoordig. Hulle wat totaal onverhoeds betrap gaan word en die kinders van God wat dit alles verwag het en nie oorval gaan word nie. Aan watter van hierdie twee groepe behoort jy? Verwag jy enigsins die wederkoms van die Here in hierdie dae? Paulus het hierdie grootse gebeurtenis in sy dae verwag !

 

 

PRE, MIDDEL OF POST ?

Die vraag bly egter staan, op watter stadium volgens God se profetiese kalender gaan die wegraping plaasvind? Gaan dit voor, in die middel van of na die groot verdrukking (Matt. 24:21) wees? Daar is vandag ongelukkig ook diegene wat die komende groot verdrukking wil weg redeneer, maar dit is ook maar net nog 'n tragedie. Die groot verdrukking self is ook 'n tragedie (wel 'n regverdige een), maar beslis nie 'n saak wat ligtelik opgeneem kan word nie. In Dan. 9:27 lees ons van die Antichris wat vir 'n week (‘n jaarweek - sewe jaar) 'n sterk verbond met baie lande sal sluit. Dit is baie duidelik die tyd waarin die gebeure wat in Op. 6-19 uiteengesit word, op aarde sal afspeel. Hierdie gaan sonder twyfel 'n geweldige tyd op aarde wees en wel soos wat daar nog nooit was nie (Dan. 12:1). Alles dui daarop dat die begin van hierdie tyd reeds op hande kan wees.

Die wêreld is in 'n chaotiese toestand en dit word daagliks net al hoe meer so. Die kollektiewe sondes van die mensdom skrei al geruime tyd ten hemele en roep om regverdige vergelding. God gaan op ‘n stadium ingryp - daarvan kan ons seker wees. Die profetiese woord van die Bybel verklaar dit ook onomwonde.

Om die vraag oor wanneer die wegraping dan gaan wees, behoorlik te antwoord, moet ons na die bekende gedeelte in Luk. 17 gaan kyk. In vers 24 sien ons meer oor die skielike aard van die die koms van die Here as ons lees: "want soos die weerlig wat van die een kant onder die hemel blits en tot by die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag wees." In die volgende verse vertel die Here Jesus self aan ons hoe die dae en die tye sal wees net voordat Hy gaan kom. Lyk dit nie na baie 'normale' tye nie, amper net soos vandag: "En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het." (verse 26 en 27). Dit was baie gewone tye. Noag, die profeet, het die mense gewaarsku, maar hulle het almal ‘beter’ geweet.

Dink net hoe spyt moet hulle vandag nie wees nie. Hulle het maar voortgegaan asof alles nog vir baie jare dieselfde sou wees, maar dit was toe nie die geval nie. Hulle was so met hulleself en hulle eie dinge besig, dat hulle nie die stem van God in hulle lewens gehoor het wat aanhoudend gepleit het: 'Maak jou klaar om jou God te ontmoet' nie. Die kruks van die saak bly egter dat die vloed gekom het toe niemand dit verwag het nie. Dit het die hele destydse wêreld onkant betrap en net agt mense se lewens is gespaar. Of moet ons die vloed ook nou vergeestelik soos baie deesdae doen? Word dit nie juis gedoen om die klem van God se komende oordele oor die aarde af te haal nie en omdat God gesê het dat die dae kort voor die wederkoms juis sal wees soos in die dae van Noag nie? Dat daar ‘n vloed was en dat dit ‘n wêreldwye vloed was is lankal nie meer te betwyfel nie. Net een bewys daarvoor is die derduisende skulpfossiele wat hoog bo-op die Himalaya gebergtes gevind word. Baie ander bewyse bestaan ook en talle Christen- en nie-Christen wetenskaplikes het dit reeds bo alle twyfel bevestig. Dit wat ons so geredelik in koerante lees dat dit alles net mites is, is ‘n aanslag van die ander kant. Daar bestaan vandag reeds meer as 250 vloedlegendes van regoor die wêreld. Die feit dat al die gegewens nie altyd presies ooreenstem nie, maak die saak nog sterker. As verskillende getuies in ‘n hofsaak getuig van dieselfde gebeurtenis, maar elkeen vertel dit bloot uit sy of haar hoek en gesigspunt, bestaan daar ‘n baie goeie saak en die regter sal dienooreenkomstig optree. Aan die anderkant, as al die getuies presies, woord vir woord, dieselfde storie vertel, sal die regter wonder of daar nie ‘n gekonkel was nie.

Bostaande daargelaat, die Woord van God praat ook op talle plekke in die Nuwe Testament oor die vloed in die dae van Noag en Jesus Christus self het daarna verwys, juis in die genoemde Luk. 17 en ook elders.

Die belangrike punt is egter dat hierdie tragedie gebeur het onder dood 'normale' omstandighede. Daar is geëet, gedrink, getrou ens. Net so sal dit wees wanneer Jesus weer kom om sy kinders te kom haal (Luk. 17:30). Gaan dit ook die omstandighede wees aan die einde van die groot verdrukking? Gaan die einde dan nie aanbreek net na 'n groot geweldige oorlog nie? Gaan dit normale, gewone omstandighede wees? Gaan mense dan ook nog normaal eet, drink en trou? Dit is glad nie wat die boek Openbaring ons leer oor die laaste deel van die sewejarige verdrukking nie !

Op. 6:6,8 (asook Matt. 24:7) praat van geweldige hongersnode in daardie dae: water (al die seewater en vars water) sal in bloed verander (soos in die dae van Egipte) Op. 16:3-6; geweldige oorloë (Op. 6:4,8; Op. 9:15-19; Op. 16:14-16 ens.) Wat gaan hierdie mense eet en drink en waar gaan hulle kans hê om normaal te trou? Die meeste jong mans sal moontlik weg wees op die oorlogsfront! Is dit hoe die dae in die tyd van Noag daaruit gesien het net voordat die vloed gekom het? Ons moet net eerlik wees met onsself. Onthou God is baie eerlik en openlik met ons (Num. 23:19).

As ons nou terugkeer na die gedeelte in Luk. 17 dan lees ons ook nog die volgende: "Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word" (verse 28 en 30). Hier word verder van koop en verkoop gepraat en ook van plant en bou. Dit klink na 'n normale dag tot dag lewensgang, soos wat ons dit deur die genade van God vandag nog beleef. Die Here gaan dus weer kom wanneer hierdie tipe lewe nog aan die orde van die dag sal wees.

Gaan dit aan die einde van groot verdrukking die geval wees? Of selfs in die middel van daardie tyd? In die middel van die sewejarige tydperk gaan die Antichris dan sy merk afdwing op alle mense en niemand sal kan koop en verkoop as hy nie die merk het nie (Op. 13:16-18). Talle mense wat hulle tot God gaan bekeer sal egter nie die merk neem nie. Dit kan ons duidelik sien uit die gedeelte in Op. 20:4. Baie sal beslis nie normaal kan koop en verkoop nie. Hulle gaan dan juis hulle lewens verloor omdat hulle die merk geweier het. Vandag word daar nog geplant en gebou, maar sal dit enigsins moontlik wees aan die einde van die groot verdrukking? In Op. 8:7 sien ons reeds dat 'n derde van die bome en ook al die groen gras op die aarde sal verbrand. Die twee getuies gaan ook mag hê om die sluise van die hemel vir drie en 'n halwe jaar te sluit sodat geen reën in hierdie tyd sal val nie (Op. 11:3-6). Dit sal alreeds in die eerste drie en 'n halwe jaar die geval wees.

Daar sal dus hoegenaamd geen sprake wees van normale plant en boubedrywighede in hierdie tyd nie. Verder sal daar ook die geweldige oordele wees van die son wat die mense sal skroei (Op. 16:8) en van hael (elk 'n talent swaar = 60 kg) wat die aardbewonders sal tref (Op. 16:21). Die Here gaan nie sy kinders onder sulke omstandighede kom haal nie. Jesus Christus, die Bruidegom en komende Koning, gaan nie sy bruid (die weergebore gemeente) aan flarde slaan net voor die bruilof in die hemel plaasvind nie. Nee, die dag van Christus sal wees soos wat dit was in die dae van Noag en Lot NET VOORDAT DIE OORDELE VAN GOD DIE GODDELOSE MENSE GETREF HET. Die Skrif leer dus dat die wegraping gaan plaasvind in redelik normale tye - SOOS BV. VANDAG!

Die vraag is nou net vir hoe lank gaan dinge nog redelik 'normaal' wees? Ons kan duidelik sien dat gebeure in die wêreld nou vinnig in 'n rigting beweeg - net soos wat God dit ook voorspel het.

'n Ander belangrike punt wat gewoonlik deur die meeste mense misgekyk word, is die feit dat God uitdruklik gesê het: "Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie" (Matt. 24:44). Dit sal dus skielik, ongemerk en ongesiens plaasvind. In die boek Openbaring lees ons op verskeie plekke (o.a. Op. 12:6; 13:5) dat daar 'n laaste tydperk van drie en 'n half jaar sal wees voordat Jesus weer gaan kom met sy heiliges (Op. 19:14). Dit word genoem as ‘n tydperk van 42 maande en selfs baie spesifiek as 1260 dae. Dit sou dus kon gebeur dat die Christene wat op daardie stadium nog op aarde sou leef (as daar nie voor die tyd 'n wegraping was nie) daardie dae sal kan aftel totdat hulle presies sou weet dat die Here bv. die volgende dag sal kom.

God het egter gesê dat niemand die dag en uur van sy koms sal kan weet nie. Verder gaan alle mense ook nie saamkom rondom Jerusalem vir die groot slag van Armageddon nie. Talle en talle mense sal waarskynlik op televisie sien hoedat die nasies rondom hierdie stad vergader om Israel 'n finale slag toe te dien. Diegene met ‘n Bybel wat dan nog sou leef, sal met groot gemak kan agterkom dat dit die groot oorlog is van Op. 19:11-21. Hulle sal dan ook presies kan weet wanneer die Here gaan kom om die oorlog te kom beëindig. God het egter gesê dat niemand hierdie uur spesifiek sal kan verwag nie. Hierdie bg. gebeure is die tweede fase van Christus se wederkoms en nie die wegraping nie. Dit is die tyd wanneer Jesus met sy voete op die Olyfberg sal staan soos wat Sag. 14:4,5 duidelik profeteer. Die bruidsgemeente van Christus was teen hierdie tyd reeds sewe jaar in die hemel vir die bruilofsweek en sal dan saam met Christus triomfantelik terugkeer na die aarde om die duisendjarige Koninkryk te kom oprig wat uiteindelik sal oorgaan in die ewigheid.

Ons lees ook in Matt. 25:13 duldelik dat: "Julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie." Hierdie gedeelte en die van Matt. 24:44 soos hierbo genoem en ander soortgelyke gedeeltes dui spesifiek op die wegraping of wegname van die bruid van Christus. Dit gaan vinnig en onverwags gebeur (1 Kor. 15:51,52).

Daarom moet ons te alle tye gereed wees om ons hemelse Bruidegom te ontmoet. Die heiliges (die bruid van Christus) sal dus vir die hele sewe jaar periode in die hemel wees, waar eers die regterstoel van Christus (2 Kor. 5:10) en dan die bruilofsmaal van die Lam sal plaasvind (Op. 19:7,9). Op aarde sal daar in hierdie selfde tyd die verskriklike oordele van God plaasvind waarvan reeds melding gemaak is. Hierdie tyd staan ook as die tyd van God se toorn bekend (Op. 6:17). In 1 Thess. 5:9 (waar dit juis gaan oor die eindgebeure) sê Paulus egter uitdruklik: "Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus." Hy praat hier met en van die gemeente - die weergebore Bybelgelowige Christene. Die ware kinders van God sal dus die hele verdrukkingstydperk ontvlug en in die hemel rondom die troon van God wees (Luk. 21:36 sê ons sal voor die Seun van die mens staan). In Op. 19:8 word die bruid van Christus beklee met "rein en blink fyn linne" vir die bruilofsmaal en in Op. 19:14 volg die leërs uit die hemel die "Die Woord van God" (Jesus Christus) "op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne." Dit gebeur reg aan die einde van die sewejarige verdrukkingstyd. Dan kom die Koning met sy bruid, die Armageddon oorlog word beëindig (Op. 19:15-21; Sag. 14:1-5) en die duisendjarige Koninkryk (vrederyk) neem 'n aanvang (Op. 20:1-6).

Die Woord van die Here is dus baie duidelik oor wanneer die wegraping sal wees en dat daar sonder enige twyfel wel so 'n gebeurtenis sal wees. Die wegraping is die volgende groot gebeurtenis op God se profetiese kalender. Dit gaan ook baie skielik plaasvind. God het verder nêrens in die Bybel gesê dat die wêreld reg gaan wees vir hierdie dag nie. Die wêreld is juis in direkte opposisie en vyandskap teen God (Jak. 4:4). Hierdie dag gaan die wêreld totaal onverhoeds betrap - juis as hulle skree "vrede en veiligheid" (1 Thess. 5:3). 'n Verdere waarheid is dat selfs die Kerk (as instelling) nie gereed gaan wees vir hierdie dag nie. Die Woord leer ons dat 'n lou afgewaterde kerk van Laodicea (menseregte of volke regte) op aarde sal wees net voordat die Here gaan kom (Op. 3:14-22).

In 2 Thess. 2:3 sien ons ook duidelik dat daar eers 'n "afval" (apostasia in die Grieks, apostasy in Engels) moet kom - 'n afval van die waarheid, voordat die laaste gebeure 'n werklikheid sal word. Sommige reken dat hierdie selfs dui op ‘n ‘vertrek van die waarheid’ - die wegraping! Daar is verder GEEN groot teken of tekens wat die wegraping noodwendig vooraf moet gaan nie. Dit kan enige dag wees my vriend, is jy gereed? Ja, dit is van die allergrootste belang dat ons as kinders van God hierdie dinge goed sal begryp en dit aan ander sal meedeel - die tyd is werklik min. So gepraat van 'in die geheim', die profeet Jesaja het dit al meer as twee en 'n half duisend jaar gelede geprofeteer: " ... die vromes word weggeruk sonder dat iemand daarop let; want die regverdige word weggeruk vanweë die boosheid. Hy gaan in die vrede in: hulle sal rus op hulle bedde - hy wat sy reguit pad loop." (Jes. 57:1,2). Hoe loop jou pad ?

 

Ons kyk nou vervolgens in veel meer detail na die Bybelse belofte van die dag van Christus - daardie unieke dag wanneer God se basuin sal weerklink en alles op aarde sal verander.

 

 

DIE SALIGE HOOP

 

 

"terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,"

(Titus 2:13).

 

Watter salige hoop kan hierdie tog wees? Soos daar duidelik uit die Skrif gesien kan word, sal die verdrukkingstyd ‘n tyd van die regverdige oordele van God oor ‘n sondebesmette wêreld wees. Sou dit regverdig wees van God om ook hulle wat Hom voor hierdie tyd in waarheid en opregtheid gedien het, deur die verskrikking van die groot verdrukking te stuur ? Dit maak nie baie sin nie en lyk totaal onlogies in die konteks van die Skrif. Om die waarheid te sê, ons is hoegenaamd nie in die duister gelaat oor hierdie ‘ongemaklike kwessie’ nie. In die Woord van God kry ons talle duidelike uitsprake dat die ware weergeborenes, hulle wat gewas is in die bloed van Jesus Christus (Op. 1:5), nie deur hierdie tyd sal gaan nie. Die Here sê vir ons ondubbelsinnig dat hulle wat aan Hom behoort, nie bestem is vir sy toorn wat oor die aarde gaan ontvlam nie: "Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met hom kan lewe." (1 Thess. 5:9) en verder om "sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos." (1 Thess. 1:10).

Die toekomstige toorn waarvan hier gepraat word, is baie duidelik ‘n verwysing na die tyd van groot verdrukking wat gaan kom.

Ons sien in Op. 6:15-17 dat daar spesifiek na die groot verdrukking verwys word as God se toorn: "die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan ?" Hier is dit vir ons duidelik uiteengesit dat die toorn wat gaan kom, op die groot verdrukking dui. Hoofstukke 6-19 van die boek Openbaring, soos vroeër reeds genoem, gaan spesifiek oor hierdie ontsettende tydperk van God se toorn wat oor die aarde en sy bewoners uitgestort gaan word. Hierdie tyd word ook genoem, "die dag van die Here" - dit is ‘n verdere verwysing na dieselfde "groot dag van sy toorn" (sien ook Rom. 1:18).

Die genoemde gedeeltes in 1 Thessalonicense, dat ons die toorn van God kan ontvlug, staan dan ook spesifiek in verband met die wederkoms van Christus en die tyd van groot verdrukking. Dit is uit die Woord baie duidelik dat hierdie tydperk die einde van die bedeling van menslike regering op aarde sal inlui. Die kinders van God sal dus voor die aanvang van hierdie tydperk weggeneem word na hulle Vaderhuis. Hierdie gebeure en werkswyse van God is verder ook glad nie vreemd aan ander dele van die Skrif nie. In die tyd van Noag, is hy en sy gesin eers in die veiligheid van die ark gebring voordat God sy oordele oor die aarde laat kom het. Die ark is dan ook ‘n tipe van die Here Jesus Christus. Almal wat in Hom is, sal eers beveilig word voordat God sy grimmigheid op die aarde gaan uitgiet. In die tyd van Lot, is hy en sy gesin ook eers na veiligheid gebring voordat God Sodom en Gomorra met vuur en swawel verwoes het. Daarom is dit nie vreemd dat ons in Luk. 17:26,28,30 die volgende woorde lees nie: "En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens ... Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot ... Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word." Soos wat dit in daardie dae gebeur het, so sal dit ook weer in die dag van Christus gebeur. Elke kind van God behoort aan Hom en sal nie in die spervuur kom wanneer die oordele van God hierdie wêreld gaan tref nie. Ons moet onthou dat dit God self is wat die wêreld gaan oordeel. Selfs in ‘n oorlogsituasie, sal die aanvallende land eers al sy mense uit die land wat hy wil aanval, gaan verwyder, voordat tot die aanval oorgegaan word. Dit is vandag nog die wyse waarop dit gedoen word. God het nog nooit in die geskiedenis hulle wat aan Hom behoort en hulle wat Hom haat oor dieselfde kam geskeer nie. Selfs Ragab en haar gesin is van vernietiging gered toe die stad Jerigo ingeneem is, omdat sy in God geglo het (Jos. 6:23,24). Ons (al die gereddes) is wel in hierdie wêreld, maar ons is nie van hierdie wêreld nie (Joh. 17:16). Ons is burgers van die hemel op reis deur ‘n vreemde land. Ons behoort aan Een wie se woonplek nie in hierdie wêreld is nie. Diegene wat in Christus is, sal daarom nie die tyd van groot verdrukking ingaan nie. Ons lees in 1 Joh. 2:28 die volgende in die verband: "En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie."

As ons dus in ons dag al die tekens van die tyd so duidelik voor ons oë sien afspeel, dan weet ons dat die groot verdrukking naby is. Daar is egter ‘n gebeurtenis wat daardie tyd sal voorafgaan en dit is die salige hoop vir elke weergeborene. Ons lees in Luk. 21:28 die volgende bemoedigende woorde: "En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is." Hierdie dinge waarvan gepraat word, is al die tekens van die tyd wat in die voorafgaande verse van Luk. 21 bespreek word - juis die groot verdrukking en die gebeure wat dit sal inlui. Al hierdie dinge staan vandag reeds op die punt om te begin gebeur en daarom moet ons opkyk met "die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en die Voleinder van die geloof," (Heb. 12:2).

Daar is nog ‘n verdere sterk bemoediging wat ons ook in Luk. 21 vind en wel in vers 36: "Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan." Hier word dit weereens baie duidelik gestel dat elkeen wat waardig geag sal word, nie die tyd van groot verdrukking sal binnegaan nie en dus geeneen van hierdie dinge (die oordele) sal beleef nie. Dit is egter net Christus in jou, deur die werking van die Heilige Gees, wat ‘n mens waardig kan maak om hierdie oordele te ontvlug.

Die Griekse woord wat in bogenoemde vers met ontvlug vertaal is, is die woord ekfeugo. Die gesaghebbende Griekse woordeboek, A Greek-English Lexicon of the New Testament and other early Christian Literature, van W.F. Arndt en F.W. Gingrich, dui die volgende betekenisse van die woord ekfeugo aan:

- na veiligheid ontsnap

- ontvlug

- vermy of ontwyk

Die betekenis van hierdie woord in bogenoemde Skrifgedeelte word spesifiek aangedui as: ‘ontvlugting uit die verdrukking’ (‘escape tribulations’). In die Nuwe Afrikaanse Vertaling van 1983 is hierdie vers egter verrassend anders vertaal. In Luk. 21:36 is ekfeugo met ‘behoue deurkom’ vertaal - ‘n baie twyfelagtige vertaling, maar op die volgende plekke is dit egter konsekwent vertaal: in Hand. 16:27 as ontsnap; Hand. 19:16 as gevlug; 1 Thess. 5:3 as ontkom; en Heb. 2:3 as ontkom. Die King James Version vertaal hierdie woord, heeltemal tereg, met escape. Niemand sal hierdie waarheid egter tot niet kan maak nie. God se Woord kan in wese nooit verander word nie - dit staan vas tot in alle ewigheid. In Op. 3:10 word dit ook vir ons baie duidelik gestel dat hulle wat die Here ken, nie in die uur van verdrukking sal gaan nie. Die King James Version noem dit soos volg: "Because thou has kept the word of my patience, I also will keep thee from the hour of temptation, which shall come upon all the world, to try them that dwell upon the earth."

Hierdie salige hoop vir elke kind van God wat vandag leef, is die dryfveer wat ’n mens aanmoedig om heilig te lewe, om onvermoeid en met ywer vir Hom te werk en te bid sonder ophou. Dit word gedoen nie uit eie krag nie, maar wel "in die krag van sy sterkte" (Efes. 6:10).

Een van die besware teen die gedagte of leerstelling van die wegraping, voor die tyd van groot verdrukking, is die beskouing dat dit sal meebring dat kinders van God sal terugval of bloot ‘n lou Christelike lewe sal lei, omdat hulle in elk geval weggeneem gaan word voor die swaar tyd kom. Dit is ‘n swakgegronde redenasie. ‘n Mens leef nie heilig uit vrees vir moelike dae nie, maar veel eerder omdat jy waarlik die Here Jesus Christus ontmoet het en omdat jy Hom vertrou het om jou met die Heilige Gees te vervul. As jy Hom leer ken het vir wie Hy is - uit die Woord - sal jy Hom altyd dien, in goeie en swaar dae. Die feit dat die wegraping enige dag kan plaasvind en nie deur een of ander spesifieke teken voorafgegaan hoef te word nie, is nog ‘n verdere aanmoediging vir ‘n Bybelse Christen om heilig te leef. Jy hoef dus nie uit te kyk vir die Antichris of ‘n sekere oorlog nie, want Jesus kan vandag kom ! Daarom moet ons te alle tye in volle gereedheid wees. Die verwagting van die wegraping bring dus eerder ‘n ware gereedheid mee as wat dit ‘n valse gerustheid tot gevolg sal hê.

 

 

DIE TEËHOUER

 

Uit die Skrif is dit baie duidelik dat die Antichris reeds vroeg in die groot verdrukking geopenbaar sal word. Hy sal ‘n sterk verbond met baie lande sluit (Dan. 9:27) en ‘n tyd van valse vrede sal ingelui word. In verband met sy openbaarmaking lees ons die volgende in 2 Thess. 2:6-8: "En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word," Die groot vraag is nou wie die teëhouer is, wat uit die weg geruim moet word alvorens die Antichris geopenbaar kan word. Sommige meen dat dit die ordelike regeringstelsels van die wêreld is. Daar bestaan egter nie meer vandag ‘n regering met ‘n grondwet wat geheel en al op die Woord van God gebaseer is nie. So ‘n regering kan hoegenaamd nie teëhou nie, allermins "die seun van die verderf" (2 Thes. 2:3). Die Antichris sal inteendeel juis vanuit so ‘n onchristelike milieu opstaan en as ‘n wêrelddiktator ‘n nuwe eenwêreldregering daarstel. Die huidige scenario op aarde is reeds van so ‘n aard dat hierdie persoon enige dag kan opstaan. Daar is egter iemand anders wat die ware teëhouer is. Net God alleen kan hierdie man verhinder om sy verskyning te maak. God werk egter in hierdie wêreld deur sy Heilige Gees en wel d.m.v. sy kinders in wie sy Gees woon. Die ware gemeente of liggaam van Christus (vol van die Heilige Gees) is daarom die teëhouer wat verhoed dat hierdie persoon aan die wêreld geopenbaar word. Die Heilige Gees word dus nie totaal van die aarde weggeneem nie - dit is onmoontlik. God is alomteenwoordig. Die Heilige Gees sal egter na die wegraping nie meer op aarde teenwoordig wees in sy pinkstervolheid nie. Die wegraping dui die einde van die kerkbedeling aan wat op pinksterdag ‘n aanvang geneem het en in die groot verdrukking wat daarna sal volg, word kortliks teruggekeer na ‘n tipe Ou Testamentiese bedeling met Israel as fokus. In Dan. 9:24-27 sien ons dat die sewentigste sewetal (sewejaar periode) ook juis uitgeroep is oor Israel as volk. Dit sal dan in vervulling gaan.

Verder moet ons onthou dat die gebede van die weergeborenes tot God, verhoed dat die huidige wêreld op politieke, morele en sedelike gebied totaal verrot. God gee ag op die gebede van sy kinders, omdat Hy in sy Woord belowe het dat Hy sal. Ons lees in Jak. 5:16 dat die vurige gebed van ‘n regverdige groot krag het. Daar is egter hoegenaamd niks om in te roem vir die ware Christene nie, want al die eer kom God toe. Dit is net genade dat Hy hierdie wêreld nog nie in geregtigheid kom oordeel het nie. Dit is ook nie vreemd aan die Bybel dat die kinders van God as die teëhouer beskou word nie. In Matt. 5:13 lees ons die volgende woorde van die Here Jesus self: "JULLE is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word?" Sout hou en werk verderf teë en gee terselfdertyd smaak. Dit is ook veral doeltreffend as dit gesprinkel word - baie meer so as wat dit op een hoop lê. Daarom se Paulus ook in Kol. 4:6 "Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel," Verder is dit ook baie interessant om daarop te let dat Lot se vrou, nadat sy Sodom verlaat het, in ‘n soutpilaar verander het (Gen. 19:26). Sy was wel ongehoorsaam aan God se opdrag, maar hierdeur kan ons duidelik sien dat God eers die ‘sout’ uitgeneem het, voordat Hy sy oordele gestuur het. Hoe jy dit ookal wil sien, Lot se vrou het wel die oordeel vrygespring en is nie deur die vuur en swael verteer nie. Een van die engele het tydens daardie geleentheid vir Lot gesê dat Hy niks kan doen voordat hulle nie by die stad Soar aangekom het nie (vers 22). Daarna is die stede eers verwoes. Dit is ‘n tipe beeld van die liggaam van Christus wat voor die groot verdrukking uit die wêreld weggeneem gaan word. Die Antichris sal net daarna geopenbaar word en die laaste sewe jaar tot en met Christus se openbaarmaking aan die wêreld sal uiteindelik aanbreek.

 

WEDERKOMS IN FASES

 

Daar is sekere dele in die Skrif wat moeiliker is om te begryp as andere. Net die verligting van die Heilige Gees van God kan hierdie verborgenhede vir die weergebore mens oopbreek. Wanneer ‘n mens die wederkoms van Christus in die Bybel bestudeer, dan kom jy gou agter dat dit nie ‘n eenvoudige saak is nie. Die algemene opvatting, dat die Here eers eendag oor ‘n paar duisend of selfs ‘n paar miljoen jaar gaan kom, dat Hy dan in ‘n oomblik die skape van die bokke gaan skei en sekeres hemel toe en ander hel toe sal gaan, is ‘n hopelose oorvereenvoudiging van die Woord. Hierdie siening kom baie keer voor by hulle wat die Woord nog nooit werklik in diepte oor hierdie saak bestudeer het nie en wat dalk bang is vir die onderwerp van die wederkoms. Dit is baie keer die geval omdat diegene nie werklik gereed is vir die dag van Christus nie of bloot net omdat die kennis hieroor ontbreek. Volgehoue gebed en daarmee saam ‘n sistematiese studie van die Skrif, bring egter gou die volle prentjie in duidelik verstaanbare perspektief.

Die wederkoms geskied in twee duidelik onderskeibare fases. Dit beteken hoegenaamd nie dat daar twee wederkomste is nie. Daar is in ons dag ‘n eienaardige siening wat teëstanders van hierdie uiteensetting van die eindgebeure het, wat net kortliks aangeraak moet word. Hulle glo ons verkondig ‘n eerste wederkoms voor die duisendjaar van vrede en ook ‘n tweede wederkoms na die duisendjaar van vrede. Daar bestaan egter nie so iets nie. Albei fases van die wederkoms vind plaas voor die duisendjaar van vrede (hulle glo egter ook nie in hierdie tyd van vrede waaroor die Bybel profeteer nie en meen ons leef nou in daardie tyd en dat die Satan tans gebind is !)

Die eerste fase lui die groot verdrukking in en die tweede fase val saam met die beëindiging van die groot verdrukking. Die wederkoms van Christus sluit dus beide fases in en ook die 1000 jarige vrederyk (Op. 20:1-6) wat daarna sal volg. Dit is die hoofrede waarom Hy weer kom - om sy Koningskap hier te kom opneem. In 1 Kor. 15:25 lees ons "Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het." Dit is beslis nie hoe ons die wêreld vandag ervaar nie. Soos reeds genoem, die kwessie oor die twee onderskeie fases van die wederkoms is nie so eenvoudig om te verstaan nie. Die apostel Petrus het egter al eeue gelede hierdie saak aangeroer en ons gewaarsku dat min dit sal verstaan. Elke kind van God wat egter ‘n gesonde en lewende wederkomsverwagting het, sorg dat hy of sy heilig voor God wandel en hoef daarom geensins in die duister te wees oor hierdie saak nie. Ons lees in 2 Pet. 3:14-17 die volgende ernstige waarskuwing: "Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede. En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf. Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie." Hierdie gedeelte moet gesien word in die konteks van die res van 2 Pet. 3, wat spesifiek gaan oor die wederkoms van Christus. Ons sal ook later duidelik sien dat dit juis die apostel Paulus is wat veral oor die eerste fase van die wederkoms geskryf het. Dit is veral die waarhede daarrondom wat "swaar is om te verstaan" Dit hoef egter nie so te bly nie, want ons het die Heilige Gees en die Woord om ons te leer.

Die feit dat die wederkoms in fases sal geskied, is verder ook hoegenaamd nie vreemd aan die Bybel nie. As ons gaan kyk na Jesus se eerste koms na hierdie aarde, dan vind ons dat daar ook verskillende fases was. Hy het nie net eendag verskyn en toe weer dadelik vertrek nie. Daar was die voorbereidingsfase toe die engel aan Maria verskyn het; daar was die geboorte; die kinderjare; sy lewe as timmerman; sy bediening op aarde van ongeveer drie en ’n half jaar; die kruisiging; sterwe; opstanding en die uiteindelike hemelvaart. Dit alles saam staan bekend as die eerste koms van Christus na hierdie aarde. Eers op die ouderdom van dertigjaar het Jesus se aardse bediening werklik ‘n aanvang geneem. In die algemeen gesien, staan sy laaste drie en ‘n half jaar eintlik as sy eerste koms bekend - toe Hy na die mense gekom het en geopenbaar is as die Seun van God, maar tog was dit net die belangrikste fase van sy eerste koms. As Hy binnekort weer gaan kom, sal dit aanvanklik net vir hulle wees wat aan Hom behoort. Hierdie fase is nog nie die ware wederkoms (wanneer Hy weer na die aarde kom) nie, soos ons weldra sal sien. Daarna sal Hy kom om sy ewige Koninkryk te kom oprig. Dit sal die uiteindelike volvoering van die profesie en belofte van sy wederkoms wees.

Vervolgens die duidelik onderskeibare aspekte tussen die twee fases van Christus se wederkoms:

In die eerste fase kom Christus net tot in die lug (1 Thess. 4:16,17)

In die tweede fase kom Hy met sy voete tot op die Olyfberg

(Sag. 14:4,5)

In die eerste fase kom Hy soos ‘n dief in die nag (Matt. 24:42,43)

In die tweede fase kom Hy en elke oog sal Hom sien (Op. 1:7)

In die eerste fase kom Hy vir sy heiliges (1 Kor. 15:51,52)

In die tweede fase kom Hy met sy heiliges (Op. 19:14)

Die eerste fase staan bekend as die dag van Christus (Fil. 1:10)

Die tweede fase word geassosieer met die dag van die Here

(Sef. 1:14-18)

In die eerste fase is die liggaam van Christus - sy Kerk, sentraal

(1 Thess. 4:16,17)

In die tweede fase is die volk Israel sentraal (Sag. 12:10 - 13:9)

 

 

DIE DAG VAN CHRISTUS

 

Hierdie is die dag waarna elke Bybelgelowige Christen regoor die wêreld vandag uitsien. Paulus skryf in hierdie verband die volgende: "En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ‘n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus," (Fil. 1:9,10). Lees ook 1 Kor. 1:7,8 i.v.m. die dag van Christus. Dit is daardie spesiale dag wanneer Christus kom om sy kinders te kom haal, sodat hulle van dan af vir ewig by Hom kan wees. Die bruidsgemeente moet vandag in gereedheid gebring word vir hierdie groot oomblik. Ons lees in 1 Thess. 4:16-18 van hierdie allerheerlike gebeurtenis: "Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met die geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde."

Hoeveel keer is jy al bemoedig met hierdie lieflike woorde? Ek wil vandag elke ware kind van God bemoedig met hierdie woorde van troos. Dit is egter ‘n baie skaars boodskap in die dag waarin ons leef, maar vir elke ware Christen ‘n blye verwagting en ‘n lewende werklikheid. Die groot verdrukking kom, maar as jy weergebore is en waarlik die Here ken, sal jy daardie tyd nie binnegaan nie. Dit geld egter net vir elkeen wat weet dat sy of haar saak met God geskik is - en wel deur die bloed van Jesus Christus. In die bogenoemde gedeelte, kan ons duidelik sien dat die Here net tot in die lug kom en dat Hy dus nog nie weer, in die ware sin van die woord, tot op die aarde sal kom nie. Dit is die eerste fase van die wederkoms. Net diegene wat in Christus gesterf het en hulle wat Hom ken in lewe, sal hierdie dag na die hemel weggevoer word. Wat beteken dit egter om in Christus te wees? Sekerlik beteken dit nie bloot om net in ‘n kerk te wees nie. In 2 Kor. 5:17 lees ons: "as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." Hierdie is nie goedkoop woorde nie. Paulus het dit in erns geskryf en wel soos geïnspireer deur die Heilige Gees. As ‘n mens se lewe nie totaal nuut geword het nie, kan jy dan nog steeds sê dat jy in Christus is? Dit sou gevaarlik wees. Die ware Christus van die Skrif sal nooit jou lewe onveranderd laat as jy Hom waarlik ontmoet het nie. Hy is die God van die heelal ! Daarom moet gewaarsku word dat alle kerkgangers nie bloot as gevolg van die feit dat hulle ‘n kerk besoek kan reken dat hulle daarom saamgeneem sal word nie. Almal wat waarlik in Christus is - wat oorgegee is aan Hom, het egter die versekering uit die Woord dat hierdie vir hulle ‘n onbeskryflike dag sal wees.

Die waarheid van die wegraping is eintlik baie eenvoudig en duidelik waarneembaar uit die Skrifgedeelte in 1 Thess. 4:16 en 17 wat hierbo aangehaal is. Die Here kom tydens hierdie geleentheid net vir sy heiliges. In Sag. 14:4,5 lees ons dat sy voete op die Olyfberg, naby Jerusalem sal staan en dat "al die heiliges" met Hom sal kom. Dieselfde waarheid vind ons ook in Judas vers 14,15 waar ons lees van die koms van die Here "met sy heilige tienduisendtalle" Die King James Version stel dit nog duideliker: "Behold, the Lord cometh with ten thousands of his saints," Hierdie is nie ‘n verwysing na engele, soos sommige meen nie. Engele word nooit in die Bybel heiliges of ‘saints’ genoem nie. Hierdie groep sal egter saamgestel wees uit elke weergebore mens wat gewas is in die bloed van die Lam. Hierdie is dan die tweede fase van sy wederkoms.

As Jesus Christus dus met sy heiliges gaan kom, dan moes Hy ook eers vir hulle gekom het. Dit is die heerlike dag van Christus, wanneer sy liggaam, met Hom as die Hoof in die lug verenig gaan word.

Hierdie gebeurtenis staan regoor die wêreld in Engels bekend as ‘the rapture’. Dit is afgelei van die woord rapere, wat die Latynse vertaling vir die Griekse woord harpazo is. In die Engelse Bybel (KJV) word dit as ‘caught up’ vertaal. Dit is presies wat dit is. Die Griekse woord harpazo is in die Afrikaanse Bybel met die woord weggevoer vertaal. K.S. Wuest skryf in sy internasionaal erkende Studies in the Vocabulary of the Greek New Testament, die volgende oor hierdie Griekse woord: "HARPAZO. This is a Greek word which has various meanings. It is not translated by one uniform English word. The meanings are as follows: ‘to seize, to carry off by force, to claim for one’s self eagerly, to snatch out or away’. It was used proverbially in the sense of ‘to rescue from the danger of destruction.’ It was used also of divine power transferring a person marvellously and swiftly from one place to another.’" In Afrikaans kan hierdie woord met o.a. weggevoer, weggeruk of weggeraap vertaal word. Dit is waar die woord wegraping vandaan kom en waarom die eerste fase van die wederkoms dikwels so genoem word. Alhoewel die woord wegraping nie self in die Bybel voorkom nie, is die betekenis daarvan heeltemal korrek en by uitstek geskik om die spesifieke aard van hierdie gebeurtenis weer te gee. Die Griekse woord harpazo kom ook op verskeie ander plekke voor en is op die volgende plekke in die Afrikaanse Bybel as volg vertaal:

 

- "En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie" (Hand. 8:39).

- "Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede - of dit in die liggaam was, weet ek nie ... dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel" (2 Kor. 12:2).

- "En sy het ‘n manlike kind gebaar wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon." (Op. 12:5). Hier kan duidelik gesien word dat die woord weggeraap, net so goed in hierdie verse gebruik sou kon word.

Dit is egter so jammer dat die woord wegraping by baie mense ‘n klokkie lui met ‘n vreemde vals toon. Baie assosieer die woord met een of ander sekte en mis so die heerlike Bybelse waarheid rondom hierdie baie spesiale gebeurtenis. As jy dit sou waag om met mense hieroor te praat, word jy vreemd en baie ongelowig aangestaar. Baie keer word die onderwerp gou verander of jou geselskap word totaal vermy. Dit is tragies en bloot uit totale onkunde. Die boodskap van die wegraping is juis vandag so van pas soos nog nooit vantevore nie. Daar is letterlik geen ander profesie in die Bybel wat nog in vervulling moet gaan voordat hierdie grootse gebeurtenis ‘n werklikheid gaan word nie. Dit sal die wêreld in ongekende ellende laat en kan enige dag plaasvind. Vir die meeste mense (selfs Christene), is dit egter net te veel gevra om geloofwaardigheid aan hierdie Bybelse waarheid te skenk. Hulle kan maar net nie glo dat God so ‘n daad van genade sal verwerklik nie. Dieselfde groep sal egter gou by wees om te verkondig dat God ‘n God van liefde is (wat Hy wel is) en daarom nie die wêreld in geregtigheid sal kom oordeel nie - in elk geval nie so letterlik as wat die Bybel dit uiteensit nie. Sodra jy glo dat die bruidsgemeente deur die groot verdrukking moet gaan, begin jy ook dadelik daardie tyd met sy geweldige oordele ontken of afwater om dit sodoende vir jou makliker te maak om anderkant uit te kom. Dan begin jy ‘n baie gevaarlike speletjie met God en sy onveranderlike Woord. Die onweerlegbare waarheid uit die Skrif, is dat die volk Israel wel deur die groot verdrukking moet gaan. Die probleem kom nou na vore as die gemeente van Christus (Efes. 5:25-32) in die plek van die letterlike Israel gestel word. Daarom word in baie gevalle geglo dat die ware gemeente ook deur hierdie tyd sal moet gaan. Dit sal egter elke keer die ongelowige of kleingelowige mens wees wat aan die kortste ent sal trek, as hy volhardend sou weier om ag te gee op hierdie Bybelse waarhede. God bly altyd konstant, altyd dieselfde - soos ‘n rots, onbeweeglik. Hy is en bly egter ook ‘n persoonlike God, wat altyd gereed staan om sonde in liefde te vergewe en verblinde oë te open. Dit is vandag die tyd om reg te maak wat nog reggemaak moet word. Die tyd loop vinnig uit. Onthou die Satan haat die boodskap van die wegraping, want dit bring hoop vir die kind van God in hierdie goddelose wêreld. Moenie toelaat dat jou salige hoop van jou beroof word nie. Ek noem dit weer. Dit blyk asof sommige nie in die wegraping wil glo nie, omdat hulle bang is dat die duiwel hulle daardeur wil mislei of dat dit sal bydra tot ‘n lou verhouding met God. Die teendeel is egter waar. As die Here enige dag kan kom, moet jy altyd gereed wees. Dit is die boodskap.

 

 

‘PROBLEME’ MET DIE ‘TEORIE’ VAN DIE WEGRAPING

 

Daar is vandag baie Christene wat twyfel of daar enigsins iets soos ‘n wegraping van die gemeente sal wees. Hier bedoel ons spesifiek die wegname van die ware Christene voor die sewejarige verdrukkingstydperk. Sommige glo die gemeente sal halfpad deur die verdrukking moet gaan en sal dan eers weggeraap word en ander weer glo dat die gemeente dwarsdeur hierdie totale tyd sal moet gaan voordat die gemeente aan die einde daarvan weggeneem sal word. Dit is te verstane dat daar seker verskillende sienings is, maar op die ou end maak dit net saak wat die Woord van God daaroor sê. Van die besware wat mense teen die gedagte het dat die bruid voor die hele tyd van verdrukking weggeneem sal word, is o.a. die volgende:

 

Hulle meen dat as Christene in die tyd van Nero en ander Romeinse keisers, in die tyd van die Roomse Kerk se inkwisisie, asook onder leiers soos Hitler en Stalin so swaar gely het, hoekom sal God ons geslag Christene dan spaar van sulke hewige vervolging. Hulle reken dat as elf van die twaalf apostels en ook Paulus wrede marteldode gesterf het, hoe kan ons verwag dat ons nie ook so sal omkom nie. Dit is ‘n goeie punt, maar net ‘n bietjie verdere Bybelse en ook buite-Bybelse navorsing bring alles gou in die regte perspektief. In die afgelope 2000 jaar was daar voortdurend Christene wat moes sterf vir hulle geloof. Om die waarheid te sê, sendinggroepe verklaar dat in die 20ste eeu alleen, was daar meer Christene wat vir hulle geloof gesterf het as in al 19 vorige eeue van die kerkbedeling tesame. Volgens die World Evangelization Research Centre in Amerika was daar in 1997 alleen 160 000 Christene wêreldwyd wat vir hulle geloof gesterf het. Soos ek hier skrywe, is daar nou Christene wat swaar vir hulle geloof in Christus ly en talle wat ook sterwe in lande soos Soedan, Morokko, Saudi-Arabië, Pakistan, Afganistan, Indonesië en Rooi China, om net ‘n paar te noem. Die rede hoekom so min Christene in die Weste sterwe vir hulle geloof, is omdat die meeste mense se Christenskap hulle niks kos nie. As jy egter vandag aktief sou begin om mense van ander godsdienste te bearbei met die oog op bekering tot Christus, mag jy dalk ook jou lewe verloor, vroeër of later - selfs in Suid-Afrika. In Moslemlande word die Christelike geloof net eenvoudig nie geduld nie, maar in die ‘Christelike’ lande van die Weste moet alle gelowe eenvoudig verdra en geakkommodeer word.

Die vervolging wat die kinders van God deur die eeue heen moes verdra - en selfs tot vandag toe - is egter op geen manier te vergelyk met die groot verdrukking waarvan die Bybel praat nie. Dit sal ‘n tyd wees soos daar nog nooit was nie (Matt. 24:21). Eintlik sou dit onregverdig van God wees om ons geslag uit te sonder en die lede van die ware gemeente van Christus wat nou leef, deur hierdie tyd te stuur. Wat van al die Christene wat reeds gesterf het en wat grootliks ‘n rustige lewe gely het sonder dat hulle ooit grootskaalse georganiseerde vervolging moes deurstaan? God is egter volmaak regverdig en daarom het ons die belofte van die wegname voor hierdie tyd ‘n aanvang neem. Geen Christen het verder enigsins ‘n waarborg dat hy deur die groot verdrukking behoue sal deurkom nie. Volgens die boek Openbaring gaan almal gedood word wat nie die merk van die dier neem nie. In Matt. 16:18 lees ons egter: " ... en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie." Die hele gemeente van Christus sal dus nooit hier op aarde tot niet gemaak word nie. In Op. 19:7,9 lees ons van die bruilof en die bruilofsmaal van die Lam, waar die bruid met die bruidegom (Christus) sal verenig in die hemel. Hoekom sou God sy bruidsgemeente eers totaal laat uitwis net voor die ‘huwelik’ - al is dit dan net ons verganklike liggame. Slaan ‘n bruidegom gewoonlik eers sy bruid uitmekaar net voor die dag van die troue?

Verder moet ook deeglik in gedagte gehou word dat die tyd van groot verdrukking nie die tyd van Satan se toorn of die Antichris se toorn is nie. Die afgelope 2000 jaar het die kerk swaar gely onder Sataniese aanslae, maar dit is nie te vergelyk met die swaar dae wat in die nabye toekoms op hierdie aarde gaan aanbreek nie. Nee, die groot verdrukking is die tyd van God se toorn.

In Op. 6:17 (heel aan die begin van hierdie onvergelyklike tyd) lees ons die volgende woorde wat hier weer genoem word: "want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?" Dan gaan God self, d.m.v. sy engele skale vanuit die hemel op die aarde uitgooi om die goddelose mense - wat vandag, in die welaangename tyd, sy genade-aanbod (die bloed van sy Seun) - in die grond vertrap, oordeel met ‘n regverdige oordeel. Daarom staan hierdie tyd ook oral in die Ou Testament bekend as die "dag van die HERE" (sien veral Sefanja 1:14-18).

‘n Ander beswaar teen ‘n wegraping voor die tyd van verdrukking, is dat gesê word dat hierdie leerstelling (van die wegraping) eers in die 19de eeu sy ontstaan gehad het. Dit is egter van alle waarheid ontbloot. Kyk na die volgende kerkvader en ander predikers wat dit reeds lank voor daardie tyd geglo en verkondig het:

 

- Ephraem van Sirië - 425 n.C.

- Peter Jurieu - 1687

- Philip Doddridge - 1738

- Morgan Edwards - 1743

- Dr. John Gill - 1748

- James Macknight - 1763

- Thomas Scott - 1792

 

 

DIE AARD VAN DIE WEGRAPING

 

Uit die Skrif kan ons duidelik sien dat hierdie gebeurtenis baie skielik en ook net so onverwags gaan kom. Ons lees in 1 Kor. 15:51,52 die volgende heerlike en ook verreikende woorde: "Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word." Hierdie waarheid was tot op hierdie stadium ‘n verborgenheid, maar hier het Paulus dit nou aan die gemeente van Korinthe geopenbaar deur die leiding van God die Heilige Gees. Hoe jammer is dit nie dat dit vandag nog steeds vir so baie ‘n verborgenheid bly nie. Paulus praat weereens van ‘ons’ - die kinders van God, sommige wat reeds gesterwe het en ander wat nog in die lewe sal wees. Hier is nie sprake van diegene wat in die wêreld leef en sonder God en sonder hoop is nie. Hulle sal agterbly. Daar is hoegenaamd nie ‘n kwessie daaromtrent nie. Die Woord verklaar dit ook baie duidelik in Luk. 17:34-36 waar ons lees: "Ek sê vir julle: In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word." (Tragies genoeg is daar diegene in ons dag wat meen dat hierdie woorde eintlik daarop wys dat die slegte mense weggeneem sal word en die goeies sal agterbly. Talle ‘nuwe era’ skrywers en aanhangers glo toevallig ook so).

Hierdie woorde vind ons net na die gedeelte wat daarna verwys dat die Here gaan kom soos in die dae van Noag en Lot, m.a.w. dit staan absoluut in verband met die dag van Christus - die wegraping ! Waar gaan jy wees as die basuin blaas ? Soos ons uit die Skrif kan aflei, sal hierdie gebeurtenis skielik wees. In die verband lees ons ook in Luk. 17:24 die volgende: "Want soos die weerlig wat van die eenkant onder die hemel blits en tot by die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag wees." (sy dag - die dag van Christus). Dit is hoe dit sal wees wanneer die Here sal kom soos ‘n dief in die nag (Matt. 24:42-44). ‘n Dief kom op so ‘n wyse dat niemand hom sien nie. Hy kom gewoonlik in die donkerste uur en kom haal net dit wat vir hom kosbaar is. Gewoonlik sal hy eerste na die brandkluis gaan en geld of juweliersware daaruit neem. Die bekende Halleluja-lied, ‘As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels’, vertel die hele verhaal. Die vergelyking met die dief is baie treffend en verduidelik presies wat daardie dag sal gebeur. Jesus Christus gaan kom om diegene te kom haal wat vir Hom kosbaar is, hulle wat Hy persoonlik geken het - hulle wat Hy met sy bloed gekoop het. Hierdie eerste fase van die wederkoms, verskil soos vroeër genoem, drasties van die tweede fase. Tydens laasgenoemde fase sal elke oog die Here sien. Ons lees daarvan in Op. 1:7 en Matt. 24:30. Die Here kan onmoontlik nie soos ‘n dief in die nag kom en tog op so ‘n manier dat elke oog Hom sien nie. ‘n Dief kom beslis nie sodat elke oog hom sien nie, inteendeel. Elke beeld wat God in sy Woord gebruik, is weldeurdag en Hy het nie hier ‘n fout begaan nie.

Die Woord praat ook van ‘n basuin - die laaste basuin - wat sal weerklink op daardie moment. Baie wonder hoe dit sal kan gebeur terwyl die Here dan soos ‘n dief in die nag gaan kom. In Op. 4:1 lees ons ook van basuingeklank en daarmee saam ‘n geroep. Die apostel Johannes skryf daar dat hy ‘n stem gehoor het wat sê: "kom op hierheen" Dit is ‘n profetiese geïmpliseerde heenwysing na die gemeente wat weggeneem word en dit korrespondeer heeltemal met 1 Thess. 4:16, waar ook van die geklank van die basuin en ‘n geroep melding gemaak word. Die Here sal sy kinders na Hom roep op daardie dag en net hulle sal sy stem herken. ‘n Mens eien mos net iemand se stem wat jy goed ken. Jesus Christus het vir ons hierdie saak duidelik uiteengesit in Joh. 10:3,4 asook in vers 27 waar Hy die volgende sê: "My skape luister na my stem, en hulle ken My."

‘n Bietjie verder in Joh. 12:28-30, lees ons waar God die Vader uit die hemel met sy Seun op aarde gespreek het. Sommige het God se stem herken en ander het gedink dat daar swaar weer is: "Vader, verheerlik u Naam! Daar het toe ‘n stem uit die hemel gekom: Ek het dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik. En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag gewees het. Ander het gesê: ‘n Engel het met Hom gespreek. Jesus antwoord en se: Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil." Op die dag van die wegraping, sal net die ware kinders van God sy stem herken en die ander sal hoegenaamd nie weet wat gebeur het nie. Dit sal vinnig plaasvind en die wêreld sal stom gelaat word.

TIPES VAN DIE WEGRAPING

 

Ons vind in die Bybel ‘n hele aantal tipes of voorbeelde van wegrapings wat in die verlede plaasgevind het. Dit is vir ons ‘n aanduiding dat daar weer so ‘n geleentheid kan of sal plaasvind in die toekoms. In Pred. 1:9 lees ons: "Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur," Vroeg in die Ou Testament vind ons die bekende geval van Henog. Hy was ‘n man na God se hart - een wat ‘n reguit pad geloop het. Die Skrif vertel ons die volgende omtrent hom: "So was dan al die dae van Henog driehonderd-vyf-en-sestig jaar. En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem." (Gen. 5:23,24). Interessant hoedat Henog (Gen. 5) weggeneem is voor die vloed in die dae van Noag (Gen. 6-8). In die Nuwe Testament lees ons ook van hierdie besondere gebeurtenis. Ons vind dit in Heb. 11:5 waar daar staan: "Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het." Tydens die wegraping van die bruid, sal dit weer net hulle wees wat God behaag het - hulle wat in Hom geglo het, wat sal saamgaan. Verder is daar die geval waar God vir Elia weggeneem het. Hiervan lees ons in 2 Kon. 2:1,11 "En toe die Here Elia in ‘n storm na die hemel sou opneem, het Elia met Elisa uit Gilgal uitgegaan. ... en Elia het in die storm na die hemel opgevaar." So sal dit wees wanneer God hulle wat aan Hom behoort, kom wegneem van hierdie aarde. Dit sal net op ‘n baie groter skaal wees en ook met baie meer verreikende gevolge.

Nie net in die Ou nie, maar ook in die Nuwe Testament, is daar tipes van die wegraping. In 2 Kor. 12:2 lees ons van so ‘n geval: "Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede - of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit - dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel." Paulus verwys hier na homself wat weggeraap is tot by God se woonplek - die derde hemel. Hy is self nie seker of dit binne of buite die liggaam was nie. Wanneer die gemeente weggeneem word, sal almal nuwe verheerlikte liggame kry. Ons lees o.a. daarvan in Fil. 3:20,21 "Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam ... " Dit is interessant dat almal wat so ‘n ondervinding gehad het, die Here geken het. Paulus sê uitdruklik "‘n man in Christus" Kan jy vandag dieselfde sê ?

Daar is nog ‘n aantal voorbeelde van wegrapings, soos toe Jesus Christus opgevaar het na die hemel. Op. 12:5 noem dat Hy "weggeruk" is. In Op.11:12 word die twee getuies ook weggeneem na die hemel. Dan is daar die 144 000 verseëldes. In Op. 14:1 staan hulle op die hemelse berg Sion. Ons lees in vers 4 van dieselfde hoofstuk: "dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan;" Ten minste tweeduisend jaar later, volg hulle Hom die hemel in. Die wegraping van die bruid, sal egter voor hierdie twee laasgenoemdes plaasvind, aangesien hierdie gebeure eers in die groot verdrukking ‘n werklikheid sal word.

 

Die Ou Testament het op ‘n paar plekke interessante heenwysings na die wegraping. In die tyd toe dit geskryf is, kon daardie mense dit natuurlik nie verstaan nie, maar vandag as ons terugkyk met die Nuwe Testament as agtergrond en basis, is dit besonder insiggewend om hierdie gedeeltes ook te bestudeer.

- In Ps. 27:4-6 lees ons dat God ons "in die dag van onheil" sal wegsteek "in sy hut" en dit gaan gepaard met "trompetgeklank".

- In Pred. 12:2-5 lees ons van swaar dae en dan: "want die mens gaan na sy ewige huis, en die rouklaers sal op straat rondgaan." Duidelik twee verskillende groepe.

- In die boek Jesaja vind ons twee sulke gedeeltes. Die eerste is in Jes. 26:17-21 oor die opstanding van die dode (let wel "U dode"). Vers 17 oor ‘n vrou wat in barensnood is, stem ooreen met die wederkomsgedeeltes in Matt. 24:8 en 1 Thess. 5:3. Vers 20 sê die volk van God moet "verberg" word totdat die grimmigheid verbygaan. Vers 21 gaan duidelik oor die groot verdrukking.

- In Jes. 57:1,2 lees ons ook dat die wegraping totaal ongemerk sal plaasvind: "en die vromes word weggeruk sonder dat iemand daarop let; want die regverdige word weggeruk vanweë die boosheid. Hy gaan in die vrede in: hulle sal rus op hulle bedde - hy wat sy reguit pad loop."

- In die boek Daniël vind ons ‘n verstommende illustrasie van die wegraping voor die sewejarige verdrukkingstyd. Behalwe dat elke deel van die Skrif in die eerste plek ‘n letterlike betekenis het, daarna ook altyd ‘n geestelike boodskap dra, is daar in baie gevalle ook buitelyn (profetiese) illustrasies in opgesluit. Hierdie illustrasies verduidelik die groter prentjie van die Skrif en is soms moeilik om na te speur. In Dan. 2 en 3 vind ons so ‘n illustrasie, wat ons net weer herinner aan die ontsaglike dieptes wat in die Skrif opgesluit lê. Dit lê egter daar om met die leiding van die Heilige Gees opgespoor te word. As ons gaan kyk na Dan. 2:48, sien ons: "Toe het die koning Daniël verhef en hom baie groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser ... " Net in die volgende vers sien ons dat sy drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego onder hom aangestel word. Die volgende vers (die laaste van Dan. 2) eindig egter so: "maar Daniël was in die paleis van die koning." In hoofstuk 3 lees ons van die gebeure rondom die beeld wat aanbid moes word en dat elkeen wat dit sou weier, in ‘n vuuroond gegooi sou word. Dit is opvallend dat Daniël hier afwesig is en dat sy drie vriende, nadat hulle geweier het om die beeld te aanbid, toe wel in die vuuroond gegooi is. In vers 19 het koning Nebukadnesar opdrag gegee dat die vuur sewe maal warmer gemaak moes word. Daniël se drie vriende is egter deur ‘n vierde Persoon ("‘n godeseun") in die oond besoek en hulle het ongedeerd daarvan afgekom. Die wagte wat hulle daar ingegooi het, het egter self verbrand (vers 22).

Kyk na die moontlike profetiese verklaring hiervan: In die gedeelte aan die einde van hoofstuk 2, is Nebukadnesar as koning ‘n tipe van God. Daniël wat deur hom verhef word, dui op die gemeente wat weggeraap word en tot in die hemel verhoog word. Die groot geskenke, dui op die regterstoel van Christus (2 Kor. 5:10; Op. 4:10) wat kort daarna ‘n aanvang sal neem. Daniël in die paleis van die koning, dui op die heiliges voor die troon van God in die hemel. Die beeld, dui op die Antichris en sy beeld (Op. 13:14,15). Die vuuroond, dui op die groot verdrukking. Die feit dat dit sewe maal warmer gemaak is, kan dui op die intensiteit en veral die lengte van die verdrukkingstyd, nl. 7 jaar. Terwyl Daniel afwesig is - in die hemel, weier sy drie vriende om die beeld te aanbid of die merk van die dier te neem. Hulle is ‘n tipe van Israel wat die groot verdrukking sal deurgaan of van diegene wat in daardie tyd gered sal word. Die vierde Persoon is Jesus Christus self (die King James Version sê: "the Son Of God"). Hy was letterlik daar by hulle in die oond teenwoordig en dui op God se ewige belofte aan sy kinders: "Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie" (Heb. 13:5). Die wagte dui op hulle wat God se vesoeningsaanbod verwerp het en uiteindelik vir ewig in die poel van vuur sal brand. Hierdie is ‘n baie duidelike en interessante illustrasie van wat die wêreld binnekort te wagte kan wees. Niemand kan presies sê wanneer nie, maar dat dit voor die deur is, is nie te betwyfel nie.

- In Miga 7:1,2 is werklik ‘n baie interessante gedeelte. Ons lees dat die somervrugte reeds ingesamel is (die oes van weergeborenes) en spesifiek hierdie woorde: "Die vrome het verdwyn uit die land, en daar is geen opregte meer onder die mense nie;" Dit wat volg is ‘n beskrywing van die groot verdrukking.

- In Sefanja 2:1-3 is die heenwysing ook verstommend: "Voordat die besluit baar ... voordat daar oor julle kom die toorngloed van die HERE, voordat oor julle kom die dag van die toorn van die HERE. Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, ... miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE." Die terme ‘dag van die Here’ en ‘toorn van die Here’ word dwarsdeur die Bybel gebruik as verwysend na die eindgebeure in die verdrukkingstyd. Let op na die woord ‘voordat.’

- In Maleagi 3:17 is die Engelse King James Bybel besonder duidelik oor daardie uiters wonderlike dag wat gaan kom: "And they shall be mine, saith the LORD of hosts, in that day when I make up my jewels; and I will spare them, as a man spareth his own son that serveth him." Dien jy die Here met alles?

Maleagi 4, wat kort hierna volg, is een van die duidelikste beskrywings in die hele Bybel van die geweldige tyd van groot verdrukking wat eers na die wegraping ‘n werklikheid sal word. Daar lees ons hierdie woorde:

"WANT kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; ... Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees;" (Mal. 4:1,2).

 

 

DIE BOEK OPENBARING

 

Een van die duidelikste en helderste bewyse dat die bruid van Christus voor die groot verdrukking weggeneem gaan word, vind ons in die boek Openbaring. Die hele boek Openbaring (wat terloops ‘n openbaring is en nie ‘n geslotenheid, verdoeseling of ‘n verborgenheid nie) is ‘n sprekende bewys hiervan. In Op. 3:20 lees ons waar Jesus Christus by ‘n deur staan en klop. Dit is die toe deur van die gemeente van Laodicea. Hierdie gemeente verteenwoordig ook die laaste Kerktydperk - volgens alle aanduidings die huidige een. Dit verteenwoordig die lou afvallige tyd in die Kerk se geskiedenis, die tyd van menseregte (Laodicea). Die tyd waarin die Kerk koud staan teenoor God en waarin die mens homself tot ‘n god verhef het. Inderdaad is die huidige scenario in die Kerk en die wêreld die vervulling hiervan. Is dit dalk hoekom ons in Op. 3:14, oor die brief aan die gemeente van Laodicea, lees dat die brief gerig word aan "die gemeente van die Laodicense" ? Dit is nou bloot ‘n gemeente van mense en nie meer van Christus nie. Menslike ‘wysheid’ het nou oorgeneem. Nie by een van die ander briewe staan dit so geskryf nie. By die briewe aan die ander gemeentes lees ons van die gemeente in Smirna of in Efese ! Om dit te midde van die absolute misleiding van ons dag raak te sien en te erken, is egter ‘n totaal ander saak. As ons nou beweeg na Op. 4:1, sien ons die volgende gebeurtenis wat na die voltooiing van die Laodiceaanse tydperk gaan aanbreek: "Na hierdie dinge het ek gesien - kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat na hierdie dinge moet gebeur." Na die toe deur van Op. 3:20, is daar nou ‘n oop deur, maar nie op aarde nie - wel in die hemel. Die bedeling van die Kerk op aarde is nou afgesluit en die ware gemeente word weggeneem na die troon van God in die hemel. Johannes wat hierdie stem met hom hoor spreek het, volg dadelik die uitgeroepenes die hemel in.

In Op. 4 en 5 verskuif die toneel van die aarde na die hemel. Johannes beskryf nou die gebeure wat daar plaasvind. In Op. 5:8 lees ons o.a. van die 24 ouderlinge en in vers 9 sing hulle ‘n nuwe lied en sê: "U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met U bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie," Hierdie 24 ouderlinge, is verteenwoordigend van die hele bruid van Christus, wat op daardie stadium in die hemel is. Daar is verder beslis nie net 24 stamme, tale, volke en nasies nie. Hierdie is ook nie ‘n verwysing na engele nie, want hulle is nie met die bloed van die Lam gekoop nie. In vers 10 sien ons dat hulle konings en priesters vir God is. As ons dit vergelyk met 1 Kron. 24, dan sien ons dat Dawid daar die volk Israel in 24 priesterordes verdeel het. Dit het die hele volk verteenwoordig, net soos die 24 ouderlinge dit hier in die hemel vir die hele gemeente doen. In vers 11 sien ons dan ook dat hulle getal aangegee word as: "tienduisende van tienduisende en duisende van duisende;" Die weergeborenes is inderdaad in die hemel op hierdie stadium en dit terwyl die aarde die oordele van God tegemoetgaan. As ons die boek Openbaring van nader bestudeer, dan is dit baie duidelik dat die Nuwe Testamentiese gemeente van Christus nooit weer op aarde figureer van hoofstuk 6-19 nie. Hierdie hoofstukke is ‘n gedetaileerde uiteensetting van die groot verdrukking en die bruid is op geen manier deel daarvan nie. Daar word wel van heiliges gepraat, maar dit is hulle wat gedurende daardie tyd gered sal word. Die gemeente is in hierdie tyd nie meer op aarde nie. Hierdie waarheid kan ons ook gewaarword uit die briewe aan die sewe gemeentes, wat ons in Op. 2 en 3 vind. Aan die einde van elke brief lees ons die volgende woorde: "Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê." Dus ‘n boodskap aan die gemeentes op aarde. In Op. 13:9, in die middel van die groot verdrukking, lees ons egter net: "As iemand ‘n oor het, laat hom hoor." Dan is die gemeente nie meer daar nie en die boodskap is aan die wêreldlinge - ‘n oproep om hulle te bekeer.

Ons lees ook in net een vers, nl. Op. 11:18, van die kinders van God in die hemel en tegelykertyd van hulle wat op aarde agtergebly het: "En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf." Onthou, heel aan die begin het ons gewys dat hulle wat die Here ken, nie bestem is vir die toorn nie. Die dode waarvan hier gepraat word, is die geestelike dode wat nog op aarde sal leef gedurende hierdie tyd. Hier word twee tonele beskryf, een op aarde en een in die hemel. God gaan beslis nie sy kinders op aarde tydens die groot verdrukking beloon nie. Dit sal egter wel voor sy troon in die hemel gebeur by die regterstoel van Christus..

 

 

TWEE OPSTANDINGS

 

Die algemene siening, dat daar met die wederkoms van Christus, net een groot opstanding van al die dode gaan wees, kom nêrens in die Bybel voor nie. Die Skrif leer ons baie duidelik dat daar twee verskillende opstandings sal wees. Die een groep is hulle wat in Christus gesterf het en die ander hulle wat sonder Hom gesterf het. Ons lees daarvan in 1 Kor. 15: 22-24. Daar word dit soos volg verduidelik: "Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Hom behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee," Die eerste opstanding sal tydens die wegraping plaasvind, soos wat ons dit vind in 1 Thess. 4:16. Daar lees ons: "en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan." Die tweede opstanding sal eers aan die einde van die bedeling op aarde, m.a.w. aan die einde van die duisendjarige vrederyk plaasvind. Dan sal die Koning, Jesus Christus, sy koninkryk aan God oorgee. Ons lees ook daarvan in Op. 20:5 - "En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie." By hierdie geleentheid sal net hulle opstaan wat Jesus Christus verwerp het. Hulle sal dan voor die groot wit troon verskyn om finaal geoordeel te word (Op. 20:11-15). Dit is in skrille kontras met die eerste opstanding. Die eerste opstanding is dan spesifiek net vir elkeen wat die versoeningsaanbod deur die bloed van Jesus Christus aangeneem het. Paulus het van hierdie spesiale opstanding gepraat toe hy die volgende gesê het: "Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry ... sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik." (Fil. 3:8,10,11). Hierdie is ‘n spesifieke verwysing na die eerste opstanding. Paulus sal nie aan homself wil sterf om bloot deel te hê aan een algemene opstanding nie. Hierdie verwys direk na wat op die dag van Christus, die wegraping, gaan gebeur.

Daar is nog verskeie ander uitsprake in die Skrif wat die eerste opstanding duidelik onderskei van die tweede een. Die volgende gedeeltes dui vir ons op hierdie heugelike dag:

"want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges." (Luk. 14:14).

 

"Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is." (Luk. 20:36).

 

"Want daar kom ‘n uur dat almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling." (Joh. 5:28,29).

 

" ... en in Jesus die opstanding uit die dode verkondig." (Hand. 4:2).

 

"en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan." (1 Thes. 4:16).

 

"om ‘n beter opstanding te kan verkry." (Heb. 11:35).

 

"Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie," (Op. 20:6).

 

 

DIE SEWE JOODSE FEESTE

 

In Lev. 23, lees ons waar die Here vir Moses onderrig het m.b.t. die feeste wat die volk Israel moes hou. Daar is in totaal sewe verskilllende feeste genoem, wat jaarliks deur die Jode onderhou moes word. Al hierdie feeste dui ook op latere gebeure en is alreeds in Christus vervul of sal in die toekoms in Hom vervul word. Dit is dus ‘n heenwysing na Jesus Christus - net soos alles in die ganse Skrif ‘n heenwysing na Hom is. Die Woord is ook baie duidelik dat hierdie feeste na toekomstige gebeure verwys en ons lees daarvan in Kol. 2:16,17 waar daar staan: "Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge;"

Vervolgens kyk ons in kort na die sewe Joodse feeste en hoe die wegraping daarin vervat is en daardeur voorspel word.

 

Die Pasga

In Lev. 23:5 lees ons van die pasga. Dit wys heen na Jesus Christus, ons Paaslam, wat vir ons sondes aan die kruis op Golgota gesterf het. Die Nuwe Testament beskryf dit so: "want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier,"

(1 Kor. 5:7,8).

Hierdie fees is dus reeds met die kruisiging vervul.

 

Die Fees van die Ongesuurde Brode

In Lev. 23:6 lees ons van hierdie fees. Dit dui op Jesus Christus, die koringkorrel wat begrawe is, net om weer te ontkiem en veel vrug te dra (Joh. 12:24). Hierdeur het Hy vir ons die ongesuurde - dus die sondelose brood van die lewe geword. Hierdie fees is ook reeds vervul.

 

Die Fees van die Eerste Vrugte

In Lev 23:10,11 lees ons van hierdie fees. Dit dui op Christus wat vir ons as eersteling uit die dode opgestaan het (1 Kor. 15:20). Hierdie fees is dus reeds vervul.

 

Die Pinksterfees

In Lev. 23:16 lees ons van hierdie fees. Op pinksterdag is die Heilige Gees uitgestort en die fees is ook in Christus vervul (Hand. 2:4). Die belofte van Joh. 16:7 (die Trooster wat in die plek van Christus sou kom) het op dié dag in vervulling gegaan.

 

Die Fees van die Basuine

In Lev. 23:24 lees ons van hierdie fees. Daar vind ons die volgende woorde: "In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ‘n rusdag wees, ‘n gedenkdag deur basuingeklank, ‘n heilige vierdag." Ook in Num. 29:1 lees ons: "dit moet vir julle ‘n dag van trompetgeklank wees."

Hierdie fees is nog nie vervul nie. Dit is ‘n heenwysing na die wegraping van die gemeente van Christus. Die dag as die basuin sal weerklink, sal hierdie fees ook in Christus vervul word. Dit dui op die basuin van I Thess. 4:16; 1 Kor. 15:52 en Op. 4:1. Die liggaam van Christus sal dan die heerlike rus ingaan. Alhoewel hierdie fees jaarliks rondom September of Oktober deur die Jode gevier word, beteken dit nie dat die wegraping nou noodwendig ook in een van daardie maande moet plaasvind nie. Nee, die dag van Christus kan enige oomblik aanbreek en daarom moet ons te alle tye gereed wees.

 

Die Groot Versoendag

In Lev. 23:27 lees ons van hierdie fees. Die vervulling hiervan lê nog in die toekoms. Dit dui op die openbare verskyning van Christus se wederkoms (Sag. 14:4,5). By daardie geleentheid sal die oorblywende derde deel van die Jode Hom herken en hulle tot Hom bekeer (Sag. 12:10; 13:1,8,9).

 

Die Loofhuttefees

In Lev. 23:34 lees ons van hierdie fees. Dit lê nog in die toekoms en dui op die 1000 jarige vrederyk, waartydens die Here self op die troon van sy vader Dawid in Jerusalem sal regeer (Sag. 14:16; Mig. 4:1-3 en Hand. 15:16,17).

 

Ons kan dus sien hoedat vier van die sewe feeste reeds letterlik in vervulling gegaan het. Dit is net logies dat die laaste drie ook so in Christus waar sal word. Die grootsheid en absolute akkuraatheid van God se profetiese plan met die mens, word deur hierdie feeste op verstommende wyse vir ons ‘n werklikheid.

Dit is daarom van die allergrootste belang om in gedagte te hou: Die volgende gebeurtenis op die feeskalender, is die wegraping van die liggaam van Christus !

 

 

‘N JOODSE PERSPEKTIEF

 

Ons moet altyd onthou dat Jesus Christus as ‘n Jood gebore is en daarom ‘n Joodse opvoeding gehad het. Sy dissipels was ook almal Jode en daarom het Hy baie keer, omdat dit heeltemal natuurlik was, vir hulle gelykenisse vertel vanuit ‘n Joodse perspektief. Nadat die Here aan sy dissipels vertel het dat Hy hulle op ‘n stadium sal moet verlaat, het hulle dit nie reg verstaan nie en daarom ontsteld geword. Hy het hulle toe soos volg bemoedig: "Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is." (Joh. 14:1-3). Hier het die Here Jesus verwys na die wegraping van sy gemeente (waarvan elf van die twaalf by Hom, later ook deel van sou word). Hy het dit egter so aan hulle oorgedra dat hulle dit maklik vanuit ‘n Joodse perskektief sou kon verstaan. Die ortodokse Jode, het tot vandag toe nog ‘n spesifieke handelswyse waarvolgens te werk gegaan moet word, voordat ‘n huwelik gesluit kan word.

Na die verlowing van die betrokkenes, gaan die aanstaande bruidegom eers vir ‘n lang tyd weg om vir sy toekomstige bruid ‘n woonplek by sy vaderhuis te gaan inrig. Dit is vandag nog die gebruik onder sekere Joodse families. Die woning word by die man se ouerhuis gereed gemaak en daarna moet die vader van die aanstaande bruidegom eers die woonplek inspekteer. As hy dit in orde vind, dan kan die man sy verloofde by haar ouerhuis gaan haal. Dit doen hy in die geheim. Hy sal een nag stil gaan en haar ‘wegsteel’ sonder dat iemand daarop let. Dan word sy na haar toekomstige bruidegom se vaderhuis geneem, waar hulle uiteindelik in die huwelik tree. Verstommend is dat volgens Joodse tradisie die bruilofsfees in sekere gevalle sewe dae sal duur. Dit is in ooreenstemming met die sewe jaar van verdrukking wat in daardie selfde tyd op aarde sal wees. In hierdie tyd sal die bruid reeds in die hemel wees vir die bruilof van die Lam en vir die bruilofsmaal daarna. Vergelyk Simson se huweliksfees van sewe dae in Rig. 14:12 en ook die vroeër genoemde sewe jaar wat Jakob (Israel) ekstra moes werk om Ragel as vrou te kon neem (Gen. 29:27). Die Joodse volk gaan dus sewe jaar langer op aarde moet bly voordat die oorblyfsel van hulle Christus as Messias gaan erken aan die einde van die sewejarige verdrukking. So sal God uiteindelik vir Israel ook as vrou neem, vir wie se bekering Hy sewe jaar langer moes wag as vir die Nuwe Testamentiese gemeente. Hierdie is die verstommende verhaal wat met die bruid van Christus gaan gebeur. Op die oomblik is ons in die verlowingsfase en wanneer die woning by die Vaderhuis in gereedheid is, sal die Here kom om ons te haal. Die gemeente van Christus op aarde, is ‘n maagd wat tans voorberei word vir daardie dag. Daarom skryf Paulus in 2 Kor. 11:2 die volgende in hierdie verband: "want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel." Dit sal ‘n werklikheid word die dag as die basuin blaas.

 

 

IS JY GEREED ?

 

Die groot vraag is nou of ons gereed is vir hierdie dag. Is jou sonde al weggewas deur die bloed van Christus? Is jy al weergebore deur die Gees van God? Is jy vandag ‘n lid van die liggaam van Christus wat uitsien na sy wederkoms "en ons vereniging met Hom," (2 Thess. 2:1). Maak hierdie gedagte jou benoud of bring dit ‘n ongekende vreugde en vrede in jou hart? Die tyd is min, die dag van Christus is op hande, "daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie." (Matt. 24:44).

Ons moet ook onthou dat Christus gaan "verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid." (Heb. 9:28).

Dit is die salige hoop wat ons het en dit is daar vir elkeen wat God op sy Woord wil neem. Waar lê jou hoop vir hierdie lewe en die een hierna?

"Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus !" - Op. 22:20

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

14

 

 

 

 

 

BEHEPTHEID MET DIE EINDTYD ?

 

 

 

 

Dat die ‘sogenaamde eindtyd’, soos baie dit wil noem, vandag vir weinig ‘n werklikheid is, kan nie weggeredeneer word nie. Dit is beslis nie meer ‘n gewilde onderwerp hier vroeg in die 21 ste eeu nie. Twintig jaar gelede was die onderwerp van die eindtyd vir baie ‘n groter werklikheid as wat dit vandag blyk te wees. Ja, dit is asof daar nou grootliks ‘n sluier getrek word oor onderwerpe wat te make het met die mens se laaste dae op aarde - veral sedert die jaar 2000 ‘n aanvang geneem het. Dit blyk dat daar tans ‘n soort valse vrede of valse gerustheid aan die orde is in die wêreld. Sou ‘n mens kon sê dat dit enigsins ‘n verrassing is? Hierdie is ‘n vraag wat ons aandag verdien. Of is dit so dat sommige mense verkeerdelik behep is met die gedagte rondom die tyd van die einde? Is dit ‘n te negatiewe onderwerp vir hierdie verligte geslag? Is dit wat hierdie wêreld bied dan so wonderbaar dat die gedagte van die tyd hierna nou ongerieflik en ongemaklik geword het?

Jesus Christus het op ‘n keer ‘n vraag aan sy omstanders gevra wat baie op die laaste geslag van toepassing sou wees: "as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?" (Luk. 18:8). Sy woorde blyk baie waar te wees as ons die huidige wêreldsituasie in oënskou sou neem. Die saak het egter ook ‘n totaal ander kant. Die laaste dae soos in die Bybel uiteengesit, behels natuurlik ook die einde van die Satan se bewindstyd en die einde van sy tyd as "god van hierdie wêreld" (2 Kor. 4:4). Hy is dus die laaste een wat mense sal aanmoedig om ‘behep’ te raak met die tekens van die eindtyd.

Daar is egter ‘n ander punt wat ons ook nie uit die oog mag verloor nie. Baie groepe in die laaste honderd en vyftig jaar het ook die einde verwag, maar hulle het op baie vreemde manier opgetree om hulle geloof daarin gestalte te gee. Om die waarheid te sê, daar was en is steeds groepe wat eienaardige dinge glo rondom die tyd van die einde - totaal onbybels om die minste te sê.

In die 20ste eeu alleen was daar al talle (moontlik honderde) kultusse wat die einde van die wêreld verwag het en wat in hul geledere ‘n soort valse messias gehad het. In die 70's was daar die berugte Jim Jones en sy groep wat selfmoord gepleeg het. In 1993 was daar David Koresh (ook ‘n selfgemaakte messias) wat met sy groep in Waco, Texas, gaan skuil het en ook die einde verwag het. Hulle het ook tragies aan hulle einde gekom na ingryping deur die Amerikaanse regering. Daar is nou baie bewyse wat vorendag kom wat daarop dui dat hulle eintlik daar wreed en onnodig deur regeringsmagte om die lewe gebring is en dat hulle grotendeels ‘n skadelose onskuldige groep was - wel totaal op ‘n verkeerde spoor. Meer onlangs was daar die ‘Heavens Gate’ kultus waarvan 39 lede gelyktydig selfmoord gepleeg het.

In Desember 1995, op die 21ste (die wintersonstilstand) het 16 lede van ‘n kultusgroep in Frankryk, die sg. Sontempel of ‘Temple Solaire’, ook hulleself om die lewe gebring. In Japan is daar ook al geruime tyd ‘n groep wat kwansuis die wederkoms verwag (hulle weet nie presies van wie nie) en hulle is daarvoor bekend dat hulle gereeld spesifieke datums stel en almal bymekaar roep vir die presiese minuut wanneer dit dan blykbaar gaan plaasvind. Hierdie dinge gebeur vandag op ‘n al hoe groter skaal regoor die wêreld. Die Satan mislei en verlei so baie mense en terselfdertyd saai hy groot twyfel by diegene wat weet dat die Bybel ook die wederkoms van Jesus Christus voorspel. Baie mense glo dan dat die vreemde gedrag van hierdie kultusgroepe net ‘n bewys is dat die hele gedagte rondom ‘n wederkoms alles net wensdenkery is en dat net wanaangepaste persone hulle daarmee ophou. Die duiwel is lief daarvoor om ‘n dubbele slag te slaan. Tot onvaste Christene gooi dan vinnig alles oorboord en gebruik hierdie verskynsels as ‘n verskoning om hulle twyfelagtige lewenswyses te regverdig. Dit is egter nie waar hierdie saak eindig nie. Wanneer liberale teoloë (uit die nominale Christendom) dan ook nog bykom met ‘ag die wederkoms kan nog duisende jare ver wees’, dan is die groot slag gewoonlik gelewer in die lewens van baie. Wat ‘n tragiese tendens.

In die tydskrif Insig (April 1996) het ‘n artikel verskyn met die naam, ‘Bloedspoor na die jaar 2000.’ Daarin word verwys na die genoemde Sontempel sekte en hoedat hierdie mense wat die ‘einde’ verwag het, hulle eie lewens geneem het. Die skrywer van die artikel probeer bewys dat almal wat glo in bv. ‘n oorlog van Armageddon en dat hierdie wêreld op ‘n stadium tot ‘n einde gaan kom (wat duidelik in die Skrif voorspel word), van lotjie getik moet wees. Hy verwys na talle kultusse wat die einde verwag en hoe gevaarlik hulle vir die samelewing is. Dan maak hy ‘n groot sprong in sy redenasies en verwys na skrywers wat die toename en opkoms van kultusse sonder meer toeskryf aan die chiliasme of dan die chiliastiese bekouing van die Bybel. Chiliasme kom van die Griekse woord chilioi of chiliasmos, wat bloot beteken 1000. Dit is nou in verband met die gedeelte in Op. 20:1-6 waar ons lees van die duisendjarige ryk waarin Christus sal regeer. Hy noem ook skrywers wat na Hitler verwys en hoedat hy ook in sy tyd ‘n duisendjarige ryk op aarde wou vestig. Dit is waar dat Hitler en talle ander wat God nie geken het nie ook sulke ideale gekoester het, maar beteken dit nou dat Bybelgelowige Christene wat die Skrif neem soos dit daar geskrywe staan, meehelp om vreemde onbybelse kultusse op die been te bring? Wat ‘n verwronge wyse van redenasie. Sou dit dan ook beteken dat die bestaan van talle Satanistiese groepe in ons dag teruggevoer kan word na Christene se verwysing na ‘n gevalle engel met die naam van Satan? Is dit nou m.a.w God of die Bybel se skuld dat baie mense die duiwel wil dien? Steel en roof en moor mense vandag omdat daar in die Bybel melding gemaak word van sulke dade? Dit is tog ‘n belaglike argument. Onthou hoe Nero Rome destyds aan die brand gesteek het en toe die Christene die skuld daarvoor gegee het.

Die woord chiliasme is maar bloot ‘n woord wat aan Christene toegedig is wat God op sy Woord neem en die Bybel glo soos dit geskryf staan. Diegene wat die Bybel wil vergeestelik wil nie hoor van so ‘n wyse van Skrifinterpretasie nie - al is die letterlike vervulling van die Skrif reeds oor en oor bevestig deur die geskiedenis. Die Skrif het vir baie ‘n ander mistieke soort betekenis waar jy self kan besluit wat ‘n gedeelte vir jou beteken. Dit is wel waar dat die Skrif sekere simbole en beelde op plekke gebruik, maar dit is baie eenvoudig om raak te sien en kan gewoonlik uit die verband afgelei word. Die Bybel is vir alle mense daar - ook vir die eenvoudiges. Almal op aarde wat in die laaste tweeduisend jaar geleef het, het nie altyd ‘n liberale teoloog byderhand gehad om die Skrif vir hom of haar te kon vergeestelik nie, omdat dit dan volgens hulle kwansuis ‘so verstaan moet word nie.’ Die dag wanneer die kinders van God voor die troon sal staan, sal God nie onregverdiglik handel en vra hoekom ons die Bybel so letterlik opgeneem het terwyl dit ‘eintlik ‘n heeltemal ander vreemde betekenis gehad het’ nie. Hy benadruk juis in sy Woord dat ons die Skrif moet glo soos klein kindertjies en dat niemand Hom in elk geval kan behaag sonder geloof nie.

Wat wel baie moontlik is, is dat die Satan geensins daarvan hou dat die mens moet dink aan die tyd waarin hy (die Satan) vir ‘n duisend jaar gebind gaan word nie. Nog minder moet die mens dink aan Armageddon en die groot mislukking wat die duiwel en sy volgelinge daardie dag gaan beleef. Hy wil nie aan so ‘n nederlaag dink nie. Sien, hy is vol van homself. Dit is ook die groot probleem van elkeen wat van God vervreemd is. Die oplossing, Jesus Christus, is egter steeds daar en sal niemand uitwerp wat na Hom kom nie.

Terug na die vreemde kultusse. In The Citizen (5 Januarie 1999) lees ons van nog ‘n kultusgroep wat in 1999 hulle opwagting in Jerusalem gemaak het - die sg. ‘Concerned Christians Cult.’ Die naam het ongelukkig baie verwarring by baie mense laat ontstaan. Hulle kom van Amerika en die Israeliese polisie het vermoed dat hulle geweld in Jerusalem wou pleeg teen die einde van 1999 om so die tweede koms of wederkoms van Christus te verhaas. Om hierdie rede is 11 van hulle gedeporteer. Daar is egter ‘n vangplek. Hulle leier Monte Kim Miller beskou homself as die ‘messias.’ Dit is sy eie koms wat hulle voorspel. Sien, hy het verwag om in die strate van Jerusalem te sterf en dan weer na drie dae uit die dood op te staan. Die probleem is nou net dat mense wêreldwyd hierdie kultusgroep verwar met ware weergebore Christene wat dwarsdeur hierdie dinge sien en wat ook ‘n wederkoms verwag, maar wel van die ware en enigste Here Jesus Christus wat reeds tweeduisend jaar gelede na die hemel opgevaar het met die belofte dat Hy weer gaan kom. Die Bybel het dit verder ook duidelik gestel dat daar valse Christusse sal kom kort voor die wederkoms. Hierdie geval in Jerusalem is dus net nog ‘n teken van die tyd waarin ons onsself tans bevind. Verder het die Skrif ons ook gewaarsku dat mense se harte sal beswyk van vrees en verwagtinge van die dinge wat oor die wêreld gaan kom (Luk. 21:26).

In 1999 was daar ook ander ‘Christelike’ groepe wat vanoor die hele wêreld na Jerusalem gestroom het en dan woning gaan maak het bo-op die Olyfberg. Hotelle daar was vol bespreek vir die millenniumwisseling aan die einde van 1999. Die probleem was dat mense die wederkoms verwag het op 1 Januarie 2000. Die Bybel waarsku egter uitdruklik dat niemand die dag en uur kan weet nie. Die seisoen van sy koms is egter baie duidelik waarneembaar en dat ons geslag in daardie tydsomstandigehede verkeer, is lankal nie meer ‘n geheim nie. Ek was egter van sterk oortuiging dat die Here nie in die jaar 2000 sou kom nie - bloot omdat te veel mense hom dan sal verwag. Die Woord verklaar juis dat Hy gaan kom op ‘n uur dat niemand dit verwag nie. Ons wil egter geensins enige datums bepaal nie, maar besef wel verseker dat ons in die tyd rondom die wederkoms leef.

In ‘n berig in die Beeld (15 Februarie 1997) kry ‘n mens ‘n tipiese voorbeeld van hoe die meeste mense die onderwerp van die laaste dae beskou. Die artikel het die volgende opskrif gehad: ‘Allerhande hane kraai, maar die uile meen die nag is nog jonk - Is die eindtyd met ons, of is dit net die onstuimigheid van die eeuwisseling?’ Hulle vermoed dus wel dat die nag reeds met ons is - interessant. In die artikel begin die skrywer met die profesieë van Nostradamus. Daar word dan verwys na dinge wat hy blykbaar voorspel het wat toe nie waar geword het nie. Dit is egter heeltemal te verstane, want hy was in die okkulte bedrywig. Hy is maar net een van talle valse profete wat geleef het. Om sy sienings en waarsêery nou met die Bybelse profesieë te vergelyk of dit enigsins in dieselfde asem te noem, toon ‘n groot gebrek aan insig. Dit word egter in die artikel gedoen. ‘n Aantal datums word ook verskaf wat deur mense opgedis is asof die einde op daardie tye sou aanbreek. Dit het toe nie gebeur nie en daarom word gesuggereer dat dit ook nie rondom die jaar 2000 sal wees nie. Op die ou end kom dit maar net daarop neer dat daar volgens die artikel nooit so iets soos die einde van alles sal wees nie. Verbasend was tog die verwysings (sommige wel totaal verwronge) van sommige Bybelse waarhede oor die laaste tye. Daar word melding gemaak van 12de eeuse gelowiges wat verstaan het dat die Antichris "twintig eeue na die Inkarnasie van die Woord" sou verskyn - m.a.w. rondom 2000. Besonderse insig wat hierdie mense 800 jaar gelede gehad het. Hulle het niks gehad om te wen of verloor nie, so hoekom het hulle dan so geglo? Ons leef nou in daardie tyd en die openbaarmaking van die Antichris is sonder twyfel op hande. Die artikel noem spottenderwys dat Christene na die Satan as ‘n soort ‘buiteruimtelike wese’ verwys. Die Antichris is volgens die skrywer dan ook so ‘n wese. Duidelik is die Bybel nie hierin geraadpleeg nie.

Tong in die kies word daar ook gespot met die gedagte dat ons nou blykbaar ‘n toeloop van Marsmanne in die volgende paar jaar kan verwag. Dan is daar ook ‘n verwysing na ‘n professor in sielkunde wat so nonchalant noem dat ag "eeuwisselings wek angs, maar ook gesprek en kreatiwiteit." Tipies en kostelik. Die onkundige leser is lekker gesus en lag heerlik oor al die ‘bohaai’ oor die sg. wederkoms en die bespiegelinge oor die ‘einde van die wêreld.’ As so iemand dan weer met die onderwerp van die eindtyd in aanraking kom, het hulle gewoonlik ‘n klinkklare antwoord gereed - ‘ag dit is maar net ‘n negatiewe siening van die werklikheid’!

In 1999 was daar ook in verskeie tydskrifte (Christelik en sekulêr) artikels wat hierdie strekking gehad het. Baie begin darem ook wonder oor die tydsomstandighede waarin die mensdom homself tans bevind en sommige bespeur onreëlmatighede op die wêreldhorison - heeltemal tereg. ‘n Uitgawe van die wêreldbekende Time tydskrif (18 Januarie 1999) het ‘n engelagtige figuur op die voorblad gehad met ‘n groot bord op sy rug wat lees: ‘THE END OF THE WORLD!?!’ Dan staan daar ook dat dit gaan oor sg. ‘Millennium Madness.’ God en sy Woord en doemprofete word gewoonlik in dieselfde asem genoem. Dit terwyl die Bybel juis die mens se enigste bron van ware hoop en die oplossing van al sy probleme is. In ‘n ander artikel word weer verwys na die ‘regse’ fundamentalistiese Christene wat die eindtyd rondom die jaar 2000 verwag. Alle Christene wat God se Woord deesdae ernstig opneem en mense wil waarsku teen God se komende oordele, word as ‘regses’ of konserwatiewes gebrandmerk. Om vandag enigsins behoudend te wees en in die Bybel te glo as die geïnspireerde Woord van God is amper dieselfde as om as ‘n vyand van die samelewing verklaar te word, maar dit moes ons te wagte gewees het. Dit is waar dat daar altyd groepe en individue is wat te ver met ‘n saak gaan en dan sommer almal wat naastenby in daardie kamp is ook in ‘n slegte lig stel in die oë van die media en anti-Bybelse groepe.

Dit is verder opmerklik hoedat die meeste skeptici totaal onnadenkend daarna verwys dat die vorige keer toe daar ‘n wisseling van millenniums was (rondom die jaar 1000), die mense ook die einde verwag het en op hulle huise se dakke geklim het om te kyk wanneer die Here dan kom ens. Enige een egter wat net ‘n klein bietjie Bybelstudie oor die profetiese gedeeltes in die Skrif gedoen het en wat net so effens wil dink, sal gou besef dat die wederkoms onmoontlik nie in daardie tyd kon plaasgevind het nie. Onthou ook wat sommige van die 12de eeuse Christene geglo het.

Die volgende is al genoem, maar word hier net weer aangeraak ter wille van helderheid. Jesus het in Matt. 24:22 daarna verwys dat as Hy daardie dae (laaste aantal dae voor sy koms) nie gaan verkort nie, sal "geen vlees gered word nie." Die wapentuig van ‘n duisend jaar gelede was net eenvoudig nie instaat tot so ‘n katastrofiese tragedie nie, maar sedert 1945 en die splitsing van die atoom, is dit verseker moontlik. Vandag is dit ‘n absolute realiteit en een van die heel grootste dilemmas waarmee staatshoofde sit. Die volgende punt is al vroeër genoem, maar vir helderheid word dit weer hier herhaal. Nie lank gelede nie het premier Tony Blair van Engeland verklaar dat inligting bekend geword het dat Irak oor genoeg chemiese en biologiese wapens beskik "om die wêreld se bevolking drie keer uit te wis." (Die Volksblad, 18 Desember 1998). In die jaar 1000 was daar nie so iets nie. Dit is die profetiese krag van die Woord van God in aksie. Of jy buig voor die Woord of jy verhard jou hard en gaan jou eie weg. Daar is ongelukkig en gelukkig geen ander alternatief nie.

As ons net vir ‘n oomblik weer dink aan hoe die lewe ‘n duisend jaar gelede daaruit gesien het, sal ons baie eerlik moet wees dat die oorgang na die jaar 1000 hoegenaamd nie te vergelyk was met die oorgang na die veelbesproke jaar 2000 nie. Behalwe vir die gebrek aan enige vorm van moderne wapentuig wat daardie tyd bestaan het, was daar geen rekenaartegnologie van enige aard ontwikkel in daardie dae nie; daar was geen moderne vervoermiddels soos vandag se motorvervoer, treinvervoer en lugvaart nie; geen moderne telekommunikasietoerusting soos telefone, telekse en satelliete nie; geen radios en televisies nie; geen wêreldwyd-geïntegreerde ekonomiese stelsel nie, om maar net ‘n paar dinge te noem. Enigeen wat dus wil sê dat sommige kop verloor elke keer as die millennium draai en dat ‘sulke gedrag maar te wagte kan wees’, is uiters onnadenkend.

Soos genoem is, is daar wel ‘n heel ander rede hoekom mense nie aan die nabyheid van die wederkoms van Christus wil dink nie. Die wonderbare Woord van God het dit ook lank gelede reeds vooruit gesien gebeur en ons daarteen gewaarsku. Die byna standaard antwoord van die meeste mense op ‘n stelling dat die wederkoms van Christus tans baie naby is, is gewoonlik: ‘ag al hierdie dinge het maar nog altyd deur die eeue voorgekom en ons tydsomstandighede is niks anders as bv. ‘n duisend jaar gelede nie.’ In 2 Pet. 3:3 het die Skrif egter veel te sê vir diesulkes: "Dit moet julle veral weet, [m.a.w. ons moet ernstig op die volgende ag gee] dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel [dus mense wat net hulle eie begeertes wil bevredig en nie tyd het vir Christus en sy koms nie] en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af. [‘ag ‘n duisend jaar gelede het die mense ook maar geglo die Here gaan weer kom en sien jy Hy het toe nie’] Want moedswillig [dus doelbewus] vergeet hulle ... " Die gedeelte gaan dan voort oor die vloed in die dae van Noag wat ‘n bonatuurlike ingryping deur God was in die alledaagse lewe op aarde en herinner ons daaraan dat God weer op ‘n groot skaal gaan ingryp op hierdie aarde - weer met ‘n oordeel en hierdie keer wel deur vuur. In Judas vers 18 lees ons ook: "In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hulle eie goddelose begeerlikhede wandel." Dit is egter nie net in die Nuwe Testament nie, maar ook reeds in die Ou Testament dat hierdie gedagtes navore kom.

Esegiël moes die volk Israel destyds dringend waarsku oor hulle geweldige sondes en dat God hulle gou en vinnig daaroor sou oordeel, maar ook hulle wou dit nie glo of letterlik opneem nie. Ons lees in Eseg. 12:22,23,25,27,28 die volgende: "Mensekind, wat is dit vir ‘n spreekwoord wat julle het in die land van Israel, naamlik: Die dae gaan voort, en van al die gesigte kom niks nie. Daarom sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Ek maak ‘n einde aan hierdie spreekwoord, sodat hulle dit nie meer as spreekwoord in Israel sal gebruik nie. Maar sê vir hulle: Die dae is naby, en die woord van elke gesig ... dit sal gebeur; dit sal nie meer uitgestel word nie. Want in julle dae, o wederstrewige huis, sal Ek ‘n woord spreek en dit uitvoer ook, spreek die Here HERE. ... Mensekind, kyk, die huis van Israel sê: Die gesig wat hy sien, is vir baie dae, en hy profeteer van tye wat ver is. Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Geeneen van my woorde sal meer uitgestel word nie; wat Ek as woord spreek, dit sal gebeur, spreek die Here HERE,"

So tipies van ons huidige tyd. Die mensdom in die algemeen het geen idee wie hierdie Here Here is nie. Hulle weet nie in die minste met Wie hulle werklik te doen het nie. Vandag het ons die gesigte van die boek Daniël en die boek Openbaring en nog vele ander wat voor ons oë in vervulling gaan, maar die mensdom van ons dag sê soos uit een mond: ‘van al die gesigte kom niks nie.’

In Eseg. 12:13 lees ons dat God gesê het sy volk sal in ballingskap na Babel weggevoer word, maar hulle het dit duidelik nie geglo nie. Daar staan verder: "maar hy [die volk] sal dit nie sien nie, en daar sal hy sterwe." God sê telkens in hierdie en ander gedeeltes oor die straf wat oor Israel sou kom, dat Hy al hierdie dinge toelaat met een groot hoofdoel,nl.: sodat "julle sal weet dat Ek die HERE is." (Eseg. 12:20). Hierdie dinge het in die eerste plek letterlik met die volk Israel gebeur, maar is verseker ook ‘n heenwysing na vandag. Israel is altyd ‘n tipe van die kinders van God en ook ‘n voorbeeld van hoe God met nasies te werk gaan. Vandag is byna al die nasies ‘weggevoer’ na die groot geestelike Babel of Babilon - die eindtydse wêreldse sisteem. Hierdie sisteem se groot val is geprofeteer in Op. 17 en 18 en ook in die Ou Testament. Die nuwe wêreldorde of dan die nuwe Babilon is met ons en die mensdom besef dit nie. Dit beteken alles behalwe ‘n heerlike tyd van vrede, maar wel ‘n tyd van verskrikking wat op ons drumpel is. Tog word daar net gehoor van vrede, vrede ! In Eseg. 13:3,10,15, 16 het God dringend gewaarsku teen die valse profete wat Hom nooit geken of geraadpleeg het nie. Ons lees daar: "So spreek die Here HERE: Wee die dwase profete wat agter hulle eie gees aan wandel en agter dinge wat hulle nie gesien het nie. ... Omdat, ja, omdat hulle my volk verlei deur te sê: Vrede! Terwyl daar geen vrede is nie; en as die volk ‘n muur bou, kyk, dan bepleister hulle dit met los kalk; ... Weg is die muur! En weg is hulle wat dit gepleister het, naamlik die profete van Israel wat profeteer aangaande Jerusalem en vir hom gesigte van vrede sien, terwyl daar geen vrede is nie, spreek die Here HERE."

In die ‘nuwe’ wêreld van die 21 ste eeu gebeur daar tans presies dieselfde. ‘n Mens dink weer onwillekeurig aan die woorde in Pred. 1:9 dat "Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie." Die Woord van God is darem so duidelik deur God self geïnspireer en geen ongelowige sondaar gaan ooit enige verskoning van enige aard kan aanbied nie. ‘n Mens moet lewe uit die Woord en nie uit wat jy dink moontlik daarin staan nie of volgens jou eie mensgemaakte sienings van hoe jy graag die Woord wil verstaan nie.

Elke ware Christen besef in hierdie dae dat dinge in die wêreld na ‘n klimaks beweeg. Mag God dit verhoed dat spotters nie te laat wakker skrik nie.

As jou oë op die Here Jesus Christus gerig is, sal jy sy wederkoms in hierdie dae verwag. Dit is so omdat die volgende plek waar Hy gaan verskyn, wel in die wolke gaan wees. Oorweeg die volgende redes hoekom ‘n kind van God die tekens van die tyd moet onderskei:

 

1. Dit bring eer op God se Naam. God het die Bybel vir ons laat opteken en as ons dit in die fynste besonderhede bestudeer, erken ons God daardeur vir wie Hy is. Ons het daardeur gemeenskap met Hom. As mense die boek van ‘n menslike skrywer lees, ontvang hy daardeur ‘n sekere mate van eer - soveel te meer die Skrywer van die Boek van alle boeke.

 

2. Ons weet daardeur dat God is wie Hy sê Hy is. Die profetiese woord is 100% akkuraat en bewys vir ons verder dat al die ander gedeeltes in die Skrif ook die absolute waarheid is. Hierdeur weet ons ook dat God nog steeds totaal in beheer van alles in die wêreld is.

 

3. Dit verheerlik Christus. In Op. 19:10 lees ons dat "die getuienis van Jesus is die gees van die profesie." Al die profesieë in die hele Skrif getuig op een of ander wyse, direk of indirek, van Jesus Christus. Hy staan sentraal in alle Bybelse profesieë.

 

4. Die tekens van die tyd wys vir ons die pad aan. Hierdeur kan ons verstaan wat in die wêreld aan die gebeur is en hoef ons nie mismoedig te wees soos hulle wat geen hoop het nie. Die Skrif is so allesgenoegsaam dat dit vir ons alles verklaar wat in die wêreld aan die gebeur is en ook hoekom dit moet gebeur.

 

5. ‘n Studie van die Bybelse profesieë is uiters verrykend - geestelik. Dit gee vir jou ontsaglike begrip van wie God is en waarom Hy sekere dinge doen en ander dinge nie doen nie. Jou persoonlike verhouding met Christus sal ook baie verdiep.

 

6. Dit bou jou geloof op. As jy sien hoedat die Woord van God in vervulling gaan, kan jy nie anders as om God te glo soos nog nooit tevore nie.

 

7. Dit bewerk ‘n groot dankbaarheid in jou hart teenoor God. Jy vra nie meer allerlei vra nie. Nou weet jy dat God sy Seun weer na die aarde sal stuur om die te kom haal wat aan Hom behoort. Jy weet dat alles in die lewe totaal sinvol is en dat God se volmaakte plan eersdaags finaal volbring sal word. Jy is dankbaar oor die groot hoop waarna jy kan uitsien.

Paulus het ‘n paar keer geskryf oor die verwagting wat hy gehad het vir die tyd hierna. Hy het in 1 Kor. 15, die hoofstuk wat juis gaan oor die opstanding van die regverdiges, gesê: "As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense."

(1 Kor. 15:19).

Baie streef hier op aarde na ‘hoë dinge’ en daarom verwag hulle nie die wederkoms van die Here nie. Die mens wil hoë hoogtes hier op aarde bereik, maar besef nie dat dit in God se oë maar steeds baie laag is nie. Paulus het ook hieroor gemaan: "moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige;" (Rom. 12:16). Dit wat vir ons na hoë dinge hier lyk, is byna niks in die oë van God nie. Daarom lees ons ook verder dat ons eerder moet "bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie." (Kol. 3:2). Die Woord praat ook van mense wie se einde "die verderf" is, want "hulle bedink aardse dinge." (Fil. 3:19).

Om vir ons self koninkryke op te rig in die teenswoordige wêreld is vreemd aan die Bybel, want ons is vreemdelinge in hierdie wêreld en ons burgerskap is in die hemele.

In Matt. 6:19-21 lees ons ook hierdie bekende woorde wat vir ons die lig wil wees in hierdie hele saak: "MOENIE vir julle skatte bymekaar maak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees."

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

15

 

 

 

 

 

DIE REGTERSTOEL VAN CHRISTUS

 

 

 

 

"Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word." Rom. 14:10

 

In die Woord van God leer ons duidelik dat dit van groot belang is om seker te maak dat ons "die woord van die waarheid reg sny." (2 Tim. 2:15). Net soos wat God onderskei tussen die wat Hom ken en dien aan die eenkant en diegene wat Hom verwerp aan die anderkant, moet ons ook altyd onderskei in die Woord van die Here tussen verskillende kernbelangrike sake. Ons moet die Woord reg verdeel om sodoende reg te laat geskied aan die wye verskeidenheid van onderwerpe wat in die Skrif na vore kom. God is ‘n God van verskeidenheid en van merkwaardige variasie. Die ganse skepping getuig daarvan in al sy verskillende fasette. Om Hom te ken en om Hom te dien is alles behalwe eentonig of eensydig. Inteendeel, dit is ‘n absolute heerlikheid vol variasie en fyn afgemete detail. Dit is natuurlik ook so dat die menslike verstand in baie gevalle nie in staat is om alles volkome te begryp en te kan akkomodeer nie. Tog het ons die Woord van God in ons midde en elke weergebore kind van God het ook die Heilige Gees in hom of haar wat Goddelike leiding verskaf in alle belangrike sake. Die Heilige Gees gee ook aan kinders van God die nodige onderskeidingsvermoë om tussen die Goddelike verskeidenheid (in die Woord), die Goddelike orde te kan vind. Die God van hemel en aarde is natuurlik ook (soos duidelik in die skepping gesien kan word) ‘n God van onbesproke orde. Ons praat dus hier van ‘n volmaak geordende verskeidenheid. Elke deeltjie het net sy spesifieke plek en kan nie elders in God se plan ingeforseer word nie en nog minder kan dit weggelaat of oor die hoof gesien word.

So vind ons dit ook in die Bybel, wat betref die oordele oor die mens, dat daar verskillende duidelik onderskeibare geleenthede sal wees waartydens dit alles sal plaasvind.

Daar is aan die eenkant die nasie-oordeel waarvan ons in Matt. 25:31-46 lees (Hierdie Skrifgedeelte, spesifiek verse 34-45, is wel ook geestelik van toepassing op die kinders van God in die bedeling van die Kerk op aarde, maar dui nie op ‘n finale oordeel van alle mense nie). Hier is die rolspelers die verskillende nasies (skape en bokke) wat na die slag van Armageddon oorgebly het, asook die broeders van Christus (die Jode). Die nasies wat goed gedoen het aan die Jode tydens die groot verdrukking sal deur God geëer word. Hulle dade sal hulle hartshouding verklap (dink aan Corrie ten Boom e.a. wat die Jode so tegemoet gekom het tydens WOII).

Tydens hierdie geleentheid (die nasie-oordeel) sal die Here Jesus reeds weer teruggekeer het na die aarde met sy openbare verskyning aan almal. Dit sal plaasvind aan die einde van die sewejarige verdrukking. Hy sal dan sy duisendjarige Koninkryk op aarde kom vestig. Die valse profeet en die Antichris sal dan, na bg. oorlog, in die poel van vuur gewerp word (Op. 19:20) en na die nasie-oordeel sal ook hulle wat teen God en Israel opgestaan het, dieselfde pad volg. Dit sal die nasies wees wat Israel in die groot verdrukking wou tot niet maak en wat die volk van God van die aarde wou afvee. Hulle ewige straf sal egter wees omdat hulle Jesus Christus finaal verwerp het. Hulle werke, in hierdie geval hulle opstand teen God se volk, sal ‘n bewys wees van hulle haat vir God. Dit is die ‘boknasies.’ Die ander (skaap) nasies sal in Christus se Koninkryk ingaan en daarna in die Nuwe Jerusalem. In Op. 21:24 lees ons van die nasies wat gered is wat hulleself in hierdie stad uit die hemel sal bevind. In 2 Tim. 4:1 lees ons ook van die nasie-oordeel waar daar staan: "Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk" Ons vind hier ‘n verwysing na die weergeborenes (geestelike lewendes) en die onweergeborenes (geestelike dooies) wat op daardie spesifieke stadium op aarde sal wees. Hierdie is dus hoegenaamd nie die eindoordeel soos wat algemeen aanvaar word nie. Hierna sal nog ‘n duisend jaar verloop voor die volgende oordeel.

Die laaste oordeel sal plaasvind voor die groot wit troon. Ons lees daarvan in Op. 20:11-15. Tydens hierdie finale geleentheid sal al die mense wat God verwerp het (die geestelike dode) geoordeel en veroordeel word. Die boeke sal geopen word en ook die boek van die lewe en as bevind word dat iemand se naam nie geskryf is in die boek van die lewe nie, sal so iemand in die poel van vuur gewerp word. Die Bybel noem dit die tweede dood. Ook sal die dood en die doderyk dan in die vuurpoel gewerp word. By hierdie geleentheid sal geen kinders van God teenwoordig wees nie. Die nuwe Jerusalem sal dan die woonplek wees van elkeen wat in Christus lewend gemaak is.

Voor beide van hierdie oordele is daar egter ‘n ander oordeel wat eers moet plaasvind. Dit is eintlik nie ‘n oordeel in die ware sin van die woord nie. Hierdie geleentheid word die bema-oordeel (na aanleiding van die Griekse woord) of dan die regterstoel van Christus genoem. Die Bybel verwys op twee plekke na laasgenoemde term - in Rom. 14:10 en ook in 2 Kor. 5:10. Bema beteken basies ‘n rostrum. Dit is die plek waar die kinders van God sal verskyn nadat ons weggeneem is van hierdie aarde met die eerste fase van die wederkoms - die wegraping. Ons lees in hierdie verband die volgende woorde: "Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan." (Luk. 21:36). Die ware weergeborenes sal die groot verdrukking nie beleef nie, maar sal in daardie tyd voor die regterstoel van Christus in die hemel verskyn (Op. 11:16-18). Hier sal niemand geoordeel of veroordeel word nie, want ons lees baie duidelik in Rom. 8:1 "Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees." By hierdie geleentheid egter sal elke kind van God beoordeel word op grond van wat hy of sy vir die koninkryk van God op aarde gedoen het. Die Woord van God is hieroor baie helder en duidelik.

Ons lees in 2 Kor. 5:10 die volgende in die verband: "Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad." Die Woord sê verder: "So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee." (Rom. 14:12). Hierdie het niks te doen met ‘n werke-regverdiging vir redding nie, maar het alles te doen met wat ons na ons redding vir God en sy saak op aarde beteken het. Niemand kan hoegenaamd deur werke van watter aard ookal by God geregverdig word nie, maar slegs deur die soenverdienste (die bloed) van Jesus Christus wat Hy aan die kruis vir ons gestort het. In baie godsdienste van die wêreld word God se volmaakte orde egter omgekeer en word daar tevergeefs deur werke gepoog om daardeur die hemel te haal. Voordat ‘n mens tot redding kom in Christus Jesus is jou werke van absoluut geen waarde voor God nie, want dit word vanuit die sondige gevalle staat gedoen en daarom is selfs die beste dade wegwerplik voor God. Elkeen wat egter tot ‘n reddende geloof in die volbragte werk van Christus gekom het, se werke tel verseker by God en Hy werk dan self d.m.v. die Heilige Gees deur diegene wat aan Hom behoort.

As ons nie ag gee op die werking van die Heilige Gees in ons lewe nie en vleeslike werke doen i.p.v. geestelike werke, sal dit in die ewigheid wys. Dit is van hierdie dade dat elke kind van God voor Hom sal moet rekenskap gee. Dit gaan dus oor ons gehoorsaamheid aan die stem van die Heilige Gees in ons lewe, al dan nie. Ons is nie in die duister oor wat ons in die kort tydjie op aarde moet doen nie, want die Skrif verduidelik in die fynste besonderhede wat "die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is." (Rom. 12:2).

By die regterstoel van Christus sal dus net bloedgewaste kinders van God verskyn. Net hulle wat deur Christus geregverdig is. Daarom is daar in Rom. 14 en 2 Kor. 5 die herhaaldelike verwysing na ‘ons’. Paulus skryf aan die gemeentes in Rome en ook in Korinthe en praat spesifiek van die gereddes - van hulle wat in Christus is. In 2 Kor. 5:1 lees ons bv. die volgende: "Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele."

Net kinders van God het so ‘n verwagting. Die ander spot gewoonlik met hierdie lewende hoop van hulle wat die Here ken. Die ander sal aan die einde van tyd voor die groot wit troon van God moet verskyn, soos reeds genoem is. Elke mens egter wat homself of haarself op die fondament Jesus Christus bevind, moet ook baie versigtig wees hoe daar verder op gebou word.

Ons lees in 1 Kor. 3:11-15 die volgende: "Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op die fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels - elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen."

Hieruit is dit baie duidelik dat daar met verskillende boumateriaal gebou kan word in die lewe van die kind van God. Net die edelgesteentes egter sal die vuurtoets kan deurstaan. Dit dui op werke en dade wat getel het by God en wat ‘n verskil in hierdie sondige wêreld gemaak het. Dit is werke geïnspireer deur God die Heilige Gees en diegene wat so lewe sal loon ontvang in die hemel. Aan die anderkant dui die hout, hooi en stoppels op die dooie werke wat van geen nut was in die koninkryk van God nie. Dit dui op vleeslikheid in die kind van God se lewe. Alhoewel so ‘n persoon gered sal word, sal dit wees soos deur vuur heen. Hierdie mens sal skade ly voor die regterstoel van Christus. Dat daar in die Skrif verskillende loon vir verskillende dade beloof word, is hoegenaamd nie te betwyfel nie. In Matt. 10:41,42 lees ons bv. die volgende:

 

"Wie ’n profeet ontvang omdat hy ’n profeet is, sal die loon van ’n profeet ontvang; en wie ’n regverdige ontvang omdat hy ’n regverdige is, sal die loon van ’n regverdige ontvang. En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ’n beker kouwater laat drink, omdat hy ’n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie."

Duidelike woorde van die Here Jesus Christus in hierdie verband.Die Skrif is verder ook meer spesifiek oor die loon wat kinders van God kan ontvang of kan verbeur voor die regterstoel van Christus.

In die Woord van God is daar vyf verskillende krone of kranse weggelê vir elkeen wat die Here behaag.

 

A. DIE ONVERWELKLIKE KROON (WEDSTRYDKROON)

"Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.

En elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem, onthou hom in alles - húlle nogal om ’n verwelklike krans te ontvang, maar ons ’n onverwelklike.

Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie."(1 Kor. 9:24-27).

Hoekom sou Paulus al hierdie dinge doen as almal in die hemel maar dieselfde loon sou ontvang. Uit liefde, ja, maar meer as dit. Sy hele lewe het getuig van iemand wat besef het dat hierdie aardse lewe van korte duur is in vergelyking met die ewigheid wat wag. Sy liefde vir Christus en vir sy medemens het hom gedring om alles in te span vir die onverwelklike krans.

Aan die einde van sy lewe kon hy sê: "Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou." (2 Tim. 4:7). Sal jy dieselfde kan sê? Dit is so maklik om tou op te gooi - so baie doen dit. Wees anders, hou die pas vol tot die einde en die loon sal nie ontbreek nie.

 

B. DIE KROON VAN ROEM (SIELEWENNERSKROON)

"Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms? Want julle is ons eer en blydskap." (1 Thes. 2:19-20).

 

"Die vrug van die regverdige is ’n boom van die lewe, en hy wat siele win, is wys." (Spr. 11:30).

 

"En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos." (Dan. 12:3).

Hoeveel siele het jy al vir God gewen? Die tyd is baie min. Wat ons wil doen, moet ons gou doen.

 

C. DIE KROON VAN DIE LEWE (MARTELAARSKROON)

 

"Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet." (Jak. 1:12).

 

"Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee." (Op. 2:10).

Miljoene martelare het al vir Christus gesterwe. Daar sal nog baie wees. Dit was nie tevergeefs nie. Die ewigheid sal dit wys. Die Here sê verder in hierdie verband: "Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele;" (Matt. 5:11,12).

D. DIE KROON VAN HEERLIKHEID (HERDERSKROON)

"Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde.

En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang."

(1 Pet. 5:2-4).

Dit geld natuurlik vir elkeen wat ‘n herder was vir ‘n verlore skaap wat teruggebring is na die kudde. Elkeen wat omgesien het na die kinders van God kan moontlik hierdie kroon ontvang.

 

E. DIE KROON VAN GEREGTIGHEID (WEDERKOMSKROON)

"Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het."

(2 Tim. 4:8).

Sien jy uit na die wederkoms van Christus, of maak die gedagte daaraan jou benoud? Is jy klaar om jou God te ontmoet, of moet dit liewer nie te gou kom nie? Elkeen wat Hom in opregtheid verwag, wag nie tevergeefs nie. Daar is selfs hiervoor ‘n beloning in die hemel.

Hierdie krone kom ons as kinders van God natuurlik glad nie toe nie. Ons verdien absoluut niks hoegenaamd by God nie. Ons beste werke is geensins prysenswaardig nie. Elkeen wat ‘n kroon ontvang, sal dit ontvang met die uitsluitlike doel om Jesus Christus daarmee te eer en om Hom daarmee te verheerlik.

In die boek Openbaring lees ons van ‘n toneel in die hemel waar die vier-en-twintig ouderlinge (verteenwoordigend van die hele bruidsgemeente van Christus) saam vergader voor die troon van God:"En rondom die troon was daar vier-en-twintig trone, en op die trone het ek die vier-en-twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad." (Op.4:4).

Ons lees in verse 9-11 verder van hierdie toneel in die hemel waar die bloedgewastes voor die troon van God neerbuig en dan gebeur die volgende: "En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, val die vier-en-twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê:

U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape."

Dit is hoekom die heiliges krone in die hemel gaan ontvang. Sal jy daardie dag ‘n kroon hê om voor Hom wat in jou plek gesterf het se voete neer te lê?

In ‘n oomblik, in ‘n oogwink se tyd kan ons voor Hom staan en dan sal elke weergeborene voor die regterstoel van Christus moet verskyn. Dit gaan skielik kom. Waarmee gaan Hy ons besig vind as Hy vandag sou kom?

Baie Christene vandag weier net eenvoudig om te aanvaar dat God nie al sy kinders oor dieselfde kam skeer nie. Hulle reken dat almal in die hemel presies gelyk voor God gaan wees. Dit is veral die vleeslike Christene wat so redeneer, want dan kan hy mos maar lewe soos hy wil in hierdie wêreld.

Hoe kan Paulus en Stefanus bv. dieselfde loon ontvang as ek en jy wat nie vir Hom gesterf het nie? God is ‘n regverdige God en Hy is ‘n beloner van die wat Hom soek. Dit geld nie net vir die redding in Christus nie, maar vir alles daarna. Daarom sê die Woord in Heb. 6:10 die volgende: "Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam," Die Here beloon in der waarheid al reeds hier op aarde die wat opreg voor Hom lewe, soveel te meer sal dit die geval in die hemel wees.

Die gelykenis oor die gehuurde werkers (Matt. 20:1-16) waarin almal dieselfde loon ontvang, hetsy of hulle voldag, halfdag of korter gewerk het, dui op die loon van die ewige lewe wat daar in Christus Jesus is en in Hom alleen. Dit wys juis daarop dat ‘n mens nie die ewige lewe deur werke van watter aard ookal kan verkry nie. Hierdie werkers het in ‘n wingerd gewerk - Jesus is mos die ware wynstok en elkeen wat in Hom is, het die ewige lewe. Hierdie is nie ‘n verwysing na die regterstoel van Christus nie. Die ander genoemde teksgedeeltes wys duidelik daarop dat al die kinders van God nie dieselfde loon van God sal ontvang nie. Daar is natuurlik diegene wat sê dat dit nie nodig is om so klem te lê op hierdie dinge nie - van die verskillende oordele nie. Baie Christene sê mos dat hulle God maar op hulle manier dien. Dan moet jy God net nie kwalik neem as Hy jou op sy manier gaan oordeel nie. Met die Woord van God in jou huis sal jy nie ‘n verskoning hê voor God nie.

In 1 Joh. 2:28 lees ons ‘n dringende waarskuwing vir elke kind van God: "En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie."

Ja, daar gaan kinders van God wees wat beskaamd gaan staan by sy wederkoms omdat hulle in die vlees gelewe het en nie ag gegee het op sy Woord nie. Hulle (elkeen wat in Christus is) sal natuurlik in die heerlikheid van die hemel wees, maar sal skielik besef dat hulle die lewende en almagtige God diep bedroef het nadat Hy hulle siele uit genade gered het. Dit sal dan baie moeilik wees vir diegene om te verstaan waarom hulle so min van hulle lewe aan God gewy het, waarom hulle so min die Woord gelees het, waarom hulle so min gebid het en waarom hulle so min met ander oor die reddende genade van Christus gepraat het. Daar is egter huidiglik nog hoop en tyd vir elke kind van God om in ‘n dieper ryker verhouding met Hom te kom. Hoe lank tyd ons nog het, weet ons nie. Dit is verseker sy wil vir elkeen van ons, hoekom sou ons dan nie daarop ag gee nie: "Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op hom het, reinig homself soos Hy rein is." (1 Joh. 3:2,3).

Dit is tyd om klaar te kry met die wêreld en om die Here te soek. Jesus sê: "Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê." - nou en hierna (Joh. 10:10) en verder sê Hy: "En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad." (Op. 22:12-14). Dit is hier waar die betekenis van "lewe en oorvloed" werklik en finaal tot sy reg sal kom.

Ewig gelukkig is hy wat nie sy oë op mense hou nie, maar op die lewende almagtige God - op Jesus Christus. Ja, gelukkig is elkeen wat nie die skouerklop van mense begeer nie, maar wat net die eer van God op die hart dra. Hy sal diegene beloon met ‘n onskatbare ewige hemelse loon.

Dink vir ‘n oomblik aan daardie dag wat jy as kind van God voor jou opgestane Here sal staan. Jy sal die wonde in sy hande, in sy voete en in sy sy sien - jy sal besef wat Hy vir jou gedoen het. Jy sal verstaan dat Hy al sy bloed gestort het vir jou. Jy sal in sy oë kyk en jy sal moet rekenskap gee van alles wat jy gedoen het nadat Hy jou deur sy Gees gewederbaar het. Op daardie oomblik sal Hy dwarsdeur jou kyk - niks sal jy dan vir Hom kan wegsteek nie. Hoe gaan jy voel as jy alleen voor hierdie God moet staan? Geen skynheiligheid sal dan enige leuenlewe kan verdoesel nie. Net ware Heilige Gees heiligheid sal dan oorbly - net dit wat jy God toegelaat het om van jou te maak deur sy Gees. Sal ons nie wegsmelt in die Heilige teenwoordigheid van hierdie almagtige ewige God nie? Net ons aardse werke met ewigheidswaarde sal dan staande bly. Die res sal soos kaf verbrand word. Elke geredde mens wat sy lewe en tyd so sinloos verspeel het, sal so bitter jammer wees oor die kanse wat vir goed verby is. Spyt sal soos altyd te laat kom. Maak vandag seker dat jou ganse lewe weggegee is aan God, soek sy wil bo alles, bid sonder ophou en doen net dit wat in die ewigheid sal tel. Hierdie Jesus het sy alles vir jou en my gegee. Wat doen ons vandag vir Hom? Wat sal ons daardie dag uit sy mond hoor?

Dit sal ons ewiglik baat om die volgende woorde van ons komende Koning te omhels:

 

"Kyk, Ek kom gou ! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie." (Op. 3:11).

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

16

 

 

 

 

 

DIE SEWENDE DAG - DIE DUISEND JAAR

 

VAN VREDE

 

 

 

 

"Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding: oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank." (Op. 20:6).

 

"Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; … sou Hy nie van ‘n ander dag daarna spreek nie. Daar bly dus 'n sabbatsrus oor vir die volk van God. … Laat ons ons dan beywer om in te gaan in die rus." (Heb. 4:4,8,9,11).

 

In Op. 20:1-7 lees ons nie minder nie as ses keer van hierdie periode van 'n duisend jaar. Sommige glo dat hierdie getal (duisend) bloot simbolies van aard is. Wie het egter gesê dat hierdie gedeelte in die Bybel vergeestelik kan of moet word? Wie sou enigiemand die reg gee om die Woord iets anders te laat sê as wat daar geskrywe staan? In Ps. 90:4 en 2 Pet. 3:8 sien ons duidelik dat 'n dag vir God soos 'n duisend jaar kan wees en ook andersom. Nêrens egter lees ons dat 'n duisend jaar twee duisend jaar of langer kan voorstel nie. God is ‘n God van orde en maak nie gebruik van misleidende tegnieke en metodes om sy Woord vir ons te verdoesel nie. Beslis ook nie in die boek van die Bybel wat genoem word, die Openbaring nie. Allermins is dit die karakter van die almagtige God.

In ‘n vorige hoofstuk het ons gekyk na gedeeltes in die Skrif wat daarop dui dat menslike regering in hierdie wêreld tot ‘n einde kan kom na sesduisend jaar. Die ware ouderdom van die aarde, nl. ongeveer sesduisend jaar, pas ook hierby in. Dit laat vir ons met nog ‘n dag, die sewende, om die week of dan sewe duisend jaar op aarde tot ‘n volmaakte voltooiing te bring.

Die eerste twee verse van Op. 20 beskryf hoedat ‘n engel uit die hemel die Satan bind vir ‘n duisend jaar lank "sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie." (vers 3). Diegene wat glo dat ons tans in die duisend jaar van vrede leef, sal maar self aan God moet verduidelik wie dit dan is wat huidiglik en ook oor die afgelope tweeduisend jaar die nasies van die wêreld so verlei het. Is dit dalk God self wat die nasies van die wêreld in hierdie eeu alleen verlei het om mekaar die stryd aan te sê in twee bloedige wêreldoorloë? Is dit wat die wêreld tans beleef God se regeringstyd van vrede? Is dit hoe die vrede van die almagtige God dan lyk? Kan dit dan nog enigsins vir Christene ‘n wonder wees waarom so min mense hulle tot hierdie God wil bekeer? Jesus Christus het self met sy eerste koms na hierdie aarde gesê: "Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard." (Matt. 10:34).

Die kans dat 'n mens openlik met die lewende God en met sy onfeilbare Woord kan spot, is baie groot as jy nie fyn op die Skrif let en dit behoorlik met die leiding van die Heilige Gees bestudeer nie. Dit is immers die Heilige Gees self wat die ganse Skrif geïnspireer het.

Daar is verder 'n ernstige saak waarvoor kinders van God en hulle wat hulleself Christene noem, baie versigtig moet wees. Dit is om baie bedag daarop te wees om nie eer van God en Christus weg te neem en dit aan die Satan te gee nie. Alhoewel God die hemel en die aarde geskape het en dit alles aan Hom behoort het daar met die sondeval ’n tydelike verplasing van mag in die wêreld ingetree. In Matt. 4:1-11 lees ons waar die Satan die Here Jesus versoek het. In verse 8 en 9 lees ons dat die duiwel Jesus na 'n "baie hoë berg" geneem het en daar gespog het dat hy "al die koninkryke van die wêreld" aan Hom sou gee as Hy voor hom sou neerval en hom aanbid. Jesus het dit nie gedoen nie, maar ook nie gesê dat hierdie koninkryke nie tydelik aan die duiwel behoort nie. In Joh.12:31 het Jesus self na die Satan verwys as die "owerste van hierdie wêreld." In 2 Kor. 4:4 noem Paulus hom die "god van hierdie wêreld" en in 1 Joh. 5:19 lees ons dat "die hele wêreld in die mag van die Bose lê." Die duiwel is dus hoegenaamd nie gebind in hierdie bedeling nie, nee, die Woord verklaar self baie duidelik: "julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind." (1 Pet. 5:7). Hierdie gedeeltes wys duidelik dat daar geen ware vrede op aarde of dan in hierdie wêreld kan wees soos die situasie tans nog daaruit sien nie. So wys die realiteit ons ook daagliks daarop.

Natuurlik is dit wel so dat elke ware weergebore kind van God beslis ware vrede in sy of haar hart kan en sal ervaar. Dit beteken egter hoegenaamd nie dat daar nou vrede op aarde is nie. Die gedeelte in Luk. 2:14 waar die engele met die aankondiging van Jesus se geboorte gesing het "vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae" het nie gedui op ‘n onmiddellike vrede nie. Hierdie selfde Jesus is wreed gekruisig en het gesterf op hierdie selfde aarde en soos reeds genoem is, het Hy later self verklaar dat Hy nie gekom het om vrede te bring nie. Na sy hemelvaart was en is daar nog steeds nie vrede op aarde nie. Hierdie was 'n profetiese heenwysing na ‘n tyd wat nog sou kom en wat nou veel nader is as ooit tevore. As Hy weer kom, kom Hy om hierdie beloofde vrede te bring en dit sal so ‘n effe anders wees as wat die 'god van hierdie wêreld' tot dusver kon aanbied. Oor sy valse 'vrede' het die Woord ons ook reeds voor die tyd gewaarsku en wel spesifiek in verband met die wederkoms van Jesus Christus: "Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid - dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie."

(1 Thess. 5:3).

Die hele kwessie van ‘n nuwe era van vrede en die daarstelling van ‘n nuwe wêreldorde, soos deur al so baie van vandag se wêreldleiers beloof is, is niks anders as 'n nagebootste poging van die ware vrederyk wat eersdaags op hierdie aarde ‘n werklikheid sal word nie. Dit is dan die duisend jaar van ware vrede waarvan die Skrif so duidelik in Op. 20 praat en sal eers na die wederkoms (m,a.w. na Christus se tweede koms) hier op aarde 'n aanvang neem. Die kortstondige nuwe era/nuwe wêreldorde, onder leierskap van die Antichris (Satan se nabootsing van Christus), sal uiteindelik verpletter word deur die ware Jesus Christus - met sy wederkoms en wel by die slag van Armageddon (Op. 16:14,16;19:11-12).

Die gevaar lê nou daarin dat selfs Christene 'n tydperk wat volgens die Skrif verheerlikend van Christus moes wees (die 1000 jaar van vrede), verheerlikend van die Satan kan maak (deur te verklaar dat ons huidiglik in daardie tyd leef). Die hedendaagse toename in Satanistiese bedrywighede ens. bewys hierdie feit. Baie Christene pleit weer by God vir vrede op aarde en tereg ook, maar is baie teleurgesteld omdat die gebede nie dadelik beantwoord word nie. Elke poging blyk elke keer fataal te wees, net soos wat die vredesproses in die Midde-Ooste ons al geleer het. God sal egter verseker daardie gebede verhoor, maar hierdie tyd lê nog in die toekoms - nou wel in die nabye toekoms. In Jes 62:7 lees ons dat ons nie moet ophou om God aan sy beloftes te herinner nie, "totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!"

'n Ander gevaar is dat baie nie wil hê dat die wederkoms moet plaasvind nie, omdat hulle nie gereed is om hulle God te ontmoet nie en daarom wil hulle hê dat die huidige tyd maar net moet aanhou en aanhou. Ons leef egter tans in die tyd waarin die wêreld in 'die mag van die Bose lê.' As dit nie reg verstaan word nie, kan dit tot baie dwalings onder selfs Christene lei. So 'n houding onder Christene bring oneer op God se Naam. God se beloofde tyd van verkwikking en vrede word weg geredeneer en daarenteen wil baie Christene eerder hulle eie vrede daar probeer stel. Daarom kry ons vandag so baie groepe wat glo dat die mens eers self die vrede op aarde moet bewerk en dan sal die wederkoms plaasvind. Hulle glo dat die Kerk die koninkryk op aarde moet voorberei of inlui. Jesus Christus het egter duidelik met sy eerste koms na hierdie aarde gesê: "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het," (Joh. 18:36). Christene het dus niks fisies om voor te veg hier in die wêreld nie. Ons stryd is juis nie teen vlees en bloed nie, maar teen die duiwel en sy misleiding ! (Efes. 6:12). Hierdie bostaande gedeelte wys net vir ons hoe onbybels was bv. die Kruistogte van die Roomse Kerk ‘n millennium gelede. Hulle wou Israel en veel meer vir hulleself oorneem, omdat hulle geglo het dat die koninkryk van God ‘n wêreldse koninkryk is.

Daar is vandag talle voorbeelde van nog ander Christelike groepe wat soortgelyke denkrigtings ondersteun soos bv. die koninkryk-nou teologie (Kindom Now Theology, Dominium Theology, Reconstructionism, Restorationism, Latter Rain Movement) en sluit natuurlik in die vervangingsteologie (Replacement Theology), waar die Kerk die volk Israel totaal en al vervang. Hulle vergeet egter van al die duidelike waarskuwing in die Skrif wat daarop dui dat die laaste dae inteendeel baie swaar sal wees en dan eers sal die Here kom (2 Thess. 2:3; 1 Tim. 4:1). Kort voor die wederkoms van Christus gaan baie van die geloof afvallig word en sal daar allermins ‘n wonderlike Christelike koninkryk op aarde wees.

Bg. groepe speel tans onwetend ‘n baie groot rol om baie Christene en nie-Christene te mislei om die sg. nuwe era (new age) met ope arms te verwelkom. Hulle is dus uit en uit deel van die geestelike afval wat die wêreld nou so oorspoel. Eers met die tweede koms van Christus - die wederkoms - sal Hy, die Vredevors, self sy Koninkryk hier op aarde kom vestig en wel vir ‘n duisend jaar lank. Daarna sal dit oorgaan in die ewigheid, in die nuwe Jerusalem.

In Op. 20:4 lees ons dat die kinders van God wat onthoof is omdat hulle nie die dier aanbid het en sy merk op hulle hand of voorhoof ontvang het nie, ook saam met Christus vir die duisend jaar op aarde sal regeer. Dit is nou diegene wat in die groot verdrukking tot bekering sal kom. Mense wat wil glo dat ons nou in die duisend jaar lewe (en dat dit ‘n aanvang geneem het met Christus se eerste koms), kan maar moeilik verklaar wanneer die Antichris regeer het (gewoonlik is dit Nero), wanneer die merk van die dier wel afdwingbaar was en ook wanneer hierdie Christene dan tot sterwe gekom het. Hulle 'regeer dus nou al vir tweeduisend jaar met Christus uit hulle grafte' of hulle het op ‘n stadium opgestaan uit die dode en niemand weet net daarvan nie. Interessant dat God nie sê dat hierdie groep salig is nie - hier nie in die sin van hulle deelagtigheid aan die ewige lewe nie, dit het hulle wel. Hulle was nie gereed vir die eerste opstanding (die wegraping) nie - op daardie stadium dus nog onweergebore. Hulle moes God se toorn ervaar in die groot verdrukking en met hulle lewe betaal om Hom nie te verloën nie. Hierdie groep sal dus opstaan met die sigbare koms van Christus aan die einde van die groot verdrukking.

In vers 6 lees ons egter: "Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding …" Dit is die gebeurtenis waarna baie kinders van God tans uitsien - die ‘salige hoop' van Titus 2:13 - die wegraping of wegvoering! In 1 Thess. 4:16-18 en 1 Kor. 15:51-53 lees ons meer daarvan. Watter ‘salige hoop’ sou ‘n kind van God vandag kon hê as hy geweet het hy gaan verseker binnekort sy kop verloor? God spot nie met sy kinders oor hierdie dinge nie - nee, die Woord is baie helder en duidelik hieroor.

 

JESUS DIE KOMENDE KONING

 

Die komende duisend jaar van vrede op aarde is ‘n tydperk waarin Christus grootliks verheerlik gaan word. Hy gaan as die Koning van die ganse aarde vereer word en as ons hierdie tyd sou wou wegredeneer, dan ontneem ons Hom van hierdie glorie. Daar word ook geensins met hierdie regeringstyd veronderstel dat Hy tot die aarde alleen beperk sal wees nie. Hy is God en sal sekerlik as Koning tussen hemel en aarde beweeg terwyl die laaste bedeling op aarde (die laaste 1000 jaar) afgesluit word.

In die boek Daniël lees ons van Nebukadnesar se droom oor die beeld. Uiteindelik het ‘n rots losgeraak en die beeld totaal verpletter. In Dan. 2:35 lees ons "die klip wat die beeld getref het, het 'n groot rots geword wat die hele aaarde gevul het." Hierdie rots is natuurlik 'n heenwysing na Jesus Christus - die ewige Rots (1 Kor. 10:4). Ons lees verder in vers 44 van dieselfde hoofstuk dat ‘n koninkryk verwek sal word wat nooit weer vernietig sal word nie - nadat die laaste menslike koninkryk op aarde tot ‘n einde gebring is. Die Nuwe Testament bevestig vir ons hierdie waarheid net weer en wel in 1 Kor. 15. Dit gaan veral oor die opstanding van die gelowiges en in verse 23-25 lees ons: "as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskapppy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het." Christus gaan sy koninkryk aan die Vader oorgee nadat die laaste slag van Gog en Magog na die duisend jaar met vuur uit die hemel beëindig is en ook die Satan finaal in die poel van vuur gewerp is ( Op. 20:7-10).

Met die aankondiging van Jesus se geboorte sowat 2000 jaar gelede, het die engel aan Maria gesê dat sy swanger sou word en 'n Seun sou baar en dat sy Hom Jesus moet noem. Die engel het egter ook die volgende gesê: "Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid," (Luk. 1:32,33). Die boek Sagaria het ook reeds na hierdie tyd verwys: "So spreek die HERE van die leërskare: Kyk, daar kom 'n Man wie se Naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van die Here bou. Ja, Hy sal die tempel van die HERE bou, en Hy sal majesteit verkry en sit en heers op sy troon; ook sal Hy ‘n priester wees op sy troon, en die raad van vrede sal tussen hulle twee bestaan." (Sag. 6:12,13). Vir die eerste keer in die geskiedenis sal daar uiteindelik vrede bestaan tussen Kerk en Staat.

In Jes. 9:5-6 lees ons ook oor die voorspelling van Jesus se eerste koms en dat Hy ook 'n Vredevors sal wees en wel "tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk," Hierdie kan nie 'n aanduiding van die hemelse koninkryk wees nie, want Dawid se troon was nog nooit in die hemel gesetel nie. Koning Dawid het vanuit Jerusalem in Israel geregeer en net so sal Jesus Christus, na sy wederkoms na hierdie aarde, ook vandaar regeer in die duisendjarige vrederyk. In die boek Jeremia leer ons meer oor die tyd waarin Jesus as Koning op aarde sal regeer. Daar in Jer. 23:5,6 lees ons van die volgende woorde: "KYK, daar kom dae, spreek die HERE, dat ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID."

Sedert die eerste koms van Christus het Israel nog nooit veilig gewoon nie - hierdie tyd kom nog ! As ons verder na Sagaria gaan en na hoofstuk 14, lees ons van die laaste oorlog en die wederkoms van Christus. In vers 4 sien ons dat sy voete op die Olyfberg sal staan en in vers 5 lees ons: "dan sal die HERE my God kom, al die heiliges met U!" en dan baie duidelik : "En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in die dag sal die HERE een wees, en sy Naam een." (vers 9) - in hierdie die sewende dag of sewende duisendste jaar. Verder lees ons ook interessante inligting rakende daardie tyd in vers 17, "En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie - hulle sal geen reën kry nie." In Sag. 9:9,10 lees ons nog meer hieroor en ook van die voorspelling dat Jesus Jerusalem op die rug van 'n jong esel sou binnery. Dit het natuurlik reeds plaasgevind en was die enigste dag wat Jesus met sy eerste koms na die aarde amptelik as Koning vereer is. Verder lees ons in hierdie gedeelte dat die Here 'n oorlog sal beëindig in Jerusalem en "Dan sal Hy aan die nasies vrede verkondig, en sy heerskappy sal wees van see tot see, en van die Eufraat tot aan die eindes van die aarde."

Dit is verder interessant om daarop te let dat toe die Here Jesus gekruisig is Pilatus 'n bord op die kruis laat aanbring het met die woorde: "HY IS DIE KONING VAN DIE JODE." (Luk. 23:38) . Daar was toe van die owerpriesters wat wou gehad het dat Pilatus dit moet verander sodat dit sou sê dat Christus self gesê het Hy is die Koning van die Jode. Pilatus het egter voet by stuk gehou en verklaar: "Wat ek geskryf het, het ek geskrywe." (Joh. 19:21,22). Dit was ‘n handeling met geweldige profetiese betekenis. In die boek Handelinge vind ons veel meer omtrent hierdie besonderse tydperk wat nog moet aanbreek. Reeds in die eerste hoofstuk en wel in ver 6 het die apostels Jesus gevra: "Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?" Hy het toe nie gesê dat daar nie so 'n tyd gaan kom nie, maar wel "Dit kom julle nie toe om die tye en geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang, wanneer die Heilige Gees oor julle kom …" Verse 7 en 8). Hulle kon op daardie stadium nog nie hierdie dinge verstaan nie, maar nadat die Heilige Gees op pinksterdag uitgestort is, het alles verander. Dieselfde Jesus Christus het in Joh. 16:13 belowe dat "wanneeer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; … en die toekomstige dinge aan julle verkondig." Die leer oor die duisendjarige vrederyk is een van hierdie toekomstige dinge wat Hy sedert pinkster aan die weergeborenes verkondig. Verder in Handelinge, in hoofstuk 15 lees ons nog meer oor die gebeure na Christus se wederkoms. In verse 16-17 vind ons die volgende woorde: "Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is." Die hemel was beslis nog nooit in 'n vervalle staat nie en hierdie dui dus ongetwyfeld op die aardse stad Jerusalem. Hier kan verder duidelik gesien word dat mense nog die Here gaan soek na die wederkoms - ‘n vreemde gedagte vir baie. As ons nou weer vlugtig terugkeer na die boek Sagaria, dan sien ons die duidelike ooreenkoms tussen die bg. verse en Sag. 14:16. Daar lees ons: "En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en om die huttefees te vier." Dit is nou diegene wat sal oorbly na die groot slag van Armageddon met Christus se wederkoms - nog ‘n bewys dat alles hier op aarde nie eensklaps verby is met die wederkoms van die Here nie.

Die profeet Jeremia het al hieroor geprofeteer: "In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die HERE; en die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die HERE in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hulle bose hart nie." (Jer. 3:17).

In Sag. 2:10,11 word die hele verhaal ook vertel: "Jubel, en wees bly o dogter van Sion! Want kyk, Ek kom om in jou midde te woon, spreek die HERE. En baie nasies sal julle in die dag by die HERE aansluit, en hulle sal My tot 'n volk wees; en Ek sal in jou midde woon."

Uit die volgende gedeelte in Miga 4:1-3 sien ons ook duidelik dat hierdie tydperk nog in die toekoms lê en dat die Here wel uit die aardse Jerusalem sal regeer: "En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom.

En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem.

En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie."

(Dieselfde gedeelte vind ons ook in Jes. 2:2-4).

Uit die aard van die saak sal daar nie ‘n wet in die hemel uitgaan nie - hierdie gedeeltes dui op ‘n toekomstige aardse ryk.

In Op. 12:5 wys die Skrif ons ook daarop dat Christus die nasies met 'n ysterstaf gaan regeer. Duidelik gaan die duiwel nie meer op die toneel wees om die nasies te verlei soos wat dit wel vandag nog die geval is nie, maar hy gaan gebind en onder in die afgrond toegesluit wees in hierdie tyd. Geen militêre diensplig vir geen land nie en geen oorloë nie - wat ‘n heerlike vooruitsig. Gaan jy daar wees? Het jy al die ewige lewe? Jesus het in daardie belangrike gebed tot sy Vader verklaar hoe hierdie lewe bekom kan word: "En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het." (Joh. 17:3). Hom kan 'n mens net leer ken deur sy Woord en deur gebed.

In Matt. 25:31-46 lees ons van die wederkoms van Christus en hoe hy die oorblywende nasies gaan oordeel en dan sy koninkryk gaan vestig. Verse 31,32 en 34 sê: "En wanneeer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom … dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, … Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af." Die ander nasies wat Hom verwerp het, sal die verderf as ewige besitting verwerf. Ons vind ook in Op. 5:10 ‘n duidelike verwysing na hierdie tyd wat kom as die bloedgewaste kinders van God ‘n nuwe lied voor die troon van God in die hemel sing en dan ook die volgende woorde uiter: "en ons sal as konings op die aarde heers." Die weergeborenes sal dus op hierdie stadium reeds in die hemel wees - voor die groot verdrukking ‘n aanvang neem. In Op. 19:6, terwyl die groot verdrukking op aarde ten einde snel, is daar ‘n heerlike gebeurtenis wat hom in die hemel afspeel: "En ek het iets gehoor soos die stem van 'n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar." Eers op hierdie stadium aanvaar Christus die koningskap - kort voor sy sigbare wederkoms. Dit is die stemme van die kinders van God wat op daardie stadium in die hemel gehoor word en hierdie gebeurtenis vind dan plaas kort voordat Jesus Christus die hemel sal verlaat, met al sy heiliges, om die slag van Armageddon op aarde te kom beëindig (Op. 19:11-21). Dan sal Hy ook sy koninkryk op aarde kom oprig en uiteindelik vir 'n duisend jaar as Koning regeer.

 

DIE AARD VAN DIE VREDERYK

 

Hoe gaan dit wees in hierdie besonderse tydperk op aarde? In Hand.3:19 lees ons van "tye van verkwikking" wat gaan kom vir elkeen wat hom van sy sonde bekeer. Die volgende twee verse noem dat die hemel Christus moet ontvang "tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete" (vers 12). En het God nie juis deur feitlik al die Ou Testamentiese profete oor die vrederyk geprofeteer nie. Hierdie verse kan nie dui op die wederoprigting van die hemel nie. Die hemel het nog nooit verval nie en hoef nie weer opgerig te word nie. Die aarde en die mensdom het egter wel met die sondeval 'n verlaagde staat betree en gaan wel weer opgerig word in die duisend jaar van vrede.

Die boek Romeine gaan verder en verduidelik vir ons veel meer in hierdie verband. In Rom. 8:18,19,21 lees ons die volgende: "WANT ek reken dat die leiding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God … in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God." Die aarde wag op hulle wat as konings kom regeer saam met die Koning van die Konings en die Here van die Here. Die duisend jaar van vrede gaan in ‘n mate ‘n terugkeer wees na die tydperk tussen die sondeval en die vloed. In Gen. 3:17 lees ons dat die aarde destyds vervloek is a.g.v. die sonde van Adam en Eva. God het verder vir hulle gesê "ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring" (vers 18). Die aarde soos ons dit vandag beleef is dus ernstig deur die sonde van die mensdom geskaad. God het egter voorsiening hiervoor gemaak in sy volmaakte raadsplan en Hy gaan die laaste bedeling op aarde op 'n hoe noot laat eindig net soos alles aanvanklik begin het. Daarna sal dit natuurlik oorgaan in die ewigheid, waarin tyd nie meer sal wees nie.

As ons nou na die Ou Testament gaan en na die boek Jesaja, dan staan 'n mens byna verstom as jy lees van die heerlikheid wat God beplan vir die wat Hom liefhet. In Jes. 11:6-10 lees ons meer oor hierdie verkwikkende vredestyd op aarde, waarna elke kind van God kan uitsien: "Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van 'n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ‘n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek. En in die dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as 'n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees."

Dit is hoe dit sal wees in hierdie, die sewende dag. In Jes. 35:6-10 vind ons meer oor hierdie besonderse tydperk: "Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok, en die tong van die stomme sal jubel want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ‘n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en bieses. En daar sal 'n grootpad wees en 'n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie, maar vir hulle sal dit wees; wie die weg bewandel - selfs die dwase sal nie dwaal nie. Daar sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar aangetref word nie; maar die verlostes sal daarop wandel. En die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg."

Jes. 41 :18 -20 gaan voort in hierdie trant: "Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn 'n waterplas maak en die dor land waterbronne. Ek sal in die woestyn gee die seder, die akasia en die mirt en die wilde-olyfboom; Ek sal in die wildernis plant die sipres, die plataan en die denneboom, die almal; sodat hulle almal saam kan sien en beken en opmerk en verstaan dat die hand van die HERE dit gedoen het en die Heilige van Israel dit geskape het."

Oor die stand van Jerusalem en die volk Israel in hierdie tyd skryf die profeet Jesaja, onder die inspirasie van die Heilige Gees, die volgende: "En jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog. Want die nasie en die koningryk wat jou nie sal dien nie, sal ondergaan, en die nasies sal seker verwoes word. … Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou bestuurders. Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie - van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof. Die son sal bedags jou lig nie meer wees nie, en as glans sal die maan vir jou geen skynsel gee nie; maar die HERE sal vir jou wees 'n ewige lig, en jou God sal jou sieraad wees. Jou son sal nie meer ondergaan nie, en jou maan nie kleiner word nie; want die HERE sal vir jou wees 'n ewige lig, en die dae van jou treurigheid is verby. En jou volk sal almal regverdiges wees, vir ewig sal hulle die land besit - as lote deur My geplant, ‘n werk van my hande, tot my verheerliking. Die kleinste sal 'n geslag word en die geringste 'n magtige nasie. Ek, die HERE, sal dit op die regte tyd gou laat kom." (Jes. 60:11,12,17-22). Hierdie lyk vir baie soos 'n verwysing na die hemel, maar ons sal binnekort sien dat daar groot verskille is tussen die duisendjarige vrederyk en die hemel. So sal geen nasies bv. kan aanwas of ondergaan of verwoes word in die hemel nie, maar wel nog in hierdie tyd - deur God self (vers12). Vir die volk Israel sal die son en maan nie meer nodig wees nie, want Jesus Christus sal in Jerusalem wees - die Lig van die wêreld. In Jes. 65:19,20,25 vind ons verdere beloftes oor hierdie geseënde tyd: "En Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk, en daarin sal nie meer gehoor word die stem van geween of die stem van geskreeu nie. Daarvandaan sal nie meer kom ‘n suigling van ‘n paar dae of ‘n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie; want 'n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie sondig, sal honderd jaar oud, deur die vloek getref word. .. . Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos 'n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE." (Sien ook Eseg. 34:25-27).

Daar sal ware vrede wees in Jerusalem: "Wees bly saam met Jerusalem en juig oor haar, almal wat haar liefhet! Wees vrolik saam met haar, baie vrolik, almal wat oor haar treurig gewees het! … Want so sê die HERE: Kyk, die vrede lei Ek na haar toe soos 'n rivier en die rykdom van die nasies soos 'n oorlopende stroom; en julle sal suig, julle sal op die heup gedra word en op die knieë getroetel word. Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word." (Jes. 66:10,12,13). Almal sal kom om in Jerusalem te aanbid en die wat teen Christus sal opstaan, sal gestraf word: "En hulle sal al julle broers bring uit al die nasies … na my heilige berg, na Jerusalem, sê die HERE … en elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die HERE. En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan het;" (Jes. 66:20,23,24).

In die boek Amos lees ons verder oor hierdie tyd wat nog moet kom:

"In die dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou soos in die ou tyd; … Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier, en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. En Ek sal hulle plant in hul land, ... sê die HERE jou God." (Amos 9:11,13,14,15).

Hierdie kan onmoontlik nie 'n geestelike verwysing na die Kerk van Christus wees nie, want haar lot kan nie verander word nie. Dus nog 'n verwysing na die vervalle hut van Dawid in Jerusalem en die letterlike Israel. Die volk Israel gaan in hierdie tyd geestelik herstel wees en uiteindelik hulle deel van die verbond nakom. Dan sal hulle in die land Israel woon met grense soos dit gewees het in die dae van koning Dawid. Die profeet Sagaria het ook oor hierdie tydperk geskryf en wel die volgende: "So sê die HERE: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die Here van die leërskare: Die heilige berg. So sê die HERE van die leërskare: Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit - elkeen met sy stok in sy hand vanweë die veelheid van hulle dae. En die pleine van die stad sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat op die pleine daarvan speel. So sê die Here van die leërskare: As dit te wonderbaar is in die oë van die oorblyfsel van hierdie volk in die dae, sal dit ook in my oë te wonderbaar wees? Spreek die HERE van die leërskare. … So sê die HERE van die leërskare: Kyk, ek gaan my volk verlos uit die land van die ooste en uit die land van die weste en hulle aanbring, en hulle sal midde-in Jerusalem woon." (Sag. 8:3-8). Vir so baie Christene is hierdie kosbare beloftes in God se onfeilbare Woord net te wonderbaar en ongelooflik om ernstig op te neem. Baie besef hoegenaamd nie eers dat hierdie gedeeltes in die Skrif opgeteken staan nie. Ander gee dit weer 'n totaal ander betekenis. Laastens, nog 'n gedeelte wat die aard van die duisendjarige vrederyk onmiskenbaar aandui: "En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die HERE om genade te smeek en die HERE van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan! So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die HERE van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die HERE om genade te smeek. So sê die HERE van die leërskare: In die dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van 'n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is." (Sag. 8:21-23). So sal God uiteindelik die volk Israel in ere herstel. Dit is egter vandag vir baie mense (selfs Christene ) net te veel om te glo of te verdra. Baie glo mos God het Israel vir altyd verwerp. Rom. 11:1,2 en 25-28 verklaar egter duidelik hoe hierdie volk in God se plan inpas. In Rom. 11:12 lees ons m.b.t. die val en uiteindelike opstaan van die Joodse volk die volgende: "En as hulle val die rykdom van die wêreld is [Jesus Christus aan die heidennasies verkondig] … hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!" Dit sal lei tot 'n heerlike sewende dag - duisend jaar van vrede vir al die nasies wat sal oorbly na die laaste groot oorlog. Baie van hierdie mense sal dan nog ongered wees, maar omdat die Satan gebind sal wees, sal daar vrede wees. Die kinders van God uit al die verskillende nasies sal dan as konings saam met Christus regeer. Daarna sal die ewigheid met God vir die vrygemaaktes aanbreek. Al is die volk Israel vandag nog steeds so verblind en afvallig, is Christus tog uit hulle gebore (Joh. 4:22) - die grootste geskenk ooit aan die mensdom!

Uit al hierdie aangehaalde teksgedeeltes oor die vrederyk, is dit baie duidelik dat daar nog nooit so 'n tyd op aarde was nie. Verder kan ons met 'n geruste hart verklaar dat ons vandag ook beslis nie hierdie tipe vrede in die wêreld ervaar nie. Elke kind van die Here het wel die vrede van God in sy of haar hart, maar dit beteken nie dat daar nou vrede op aarde neergedaal het nie.

Diegene wat glo dat al hierdie gedeeltes dan op die hemel moet dui, verloor egter ook ‘n hele paar sake uit die oog. Vervolgens kyk ons nou na agt verskille tussen die duisendjarige vrederyk op aarde en die nuwe Jerusalem wat eers daarna betree sal word:

1. In die duisend jaar sal Christus regeer (Op. 20:4)

In die hemel sal God self regeer (Op. 21:3)

2. In die duisend jaar sal daar 'n tempel wees (Eseg. 40-47;

Sag. 6:12,15)

In die hemel sal daar geen tempel wees nie (Op. 21;22)

3. In die duisend jaar sal daar nog see wees (Eseg. 47:8; Sag. 9:10)

In die hemel sal daar geen see meer wees nie (Op. 21:1)

4. In die duisend jaar sal daar nog sonde wees ( Jes. 65:20; Sag. 14:16) In die hemel sal daar geen sonde wees nie (Op. 21:8; Op. 22:15)

5. In die duisend jaar gaan mense nog aan tyd gebind wees (Jes. 65:20; Jes. 66:23)

In die hemel sal daar geen tyd meer wees nie (Dan. 12:3)

6. In die duisend jaar sal die evangelie nog verkondig word (Jes. 66:19; Matt. 24:14; Hand. 15:16,17).

In die hemel sal dit nie meer nodig wees nie (Op. 21:27)

7. In die duisend jaar sal dit nog reën (Jes. 30:23; Sag. 14:17)

In die hemel sal dit nie meer nodig wees nie. (Op. 22:1,2)

8. In die duisend jaar sal mense nog kinders hê (Jes. 60:22)

In die hemel sal daar nie so iets wees nie (Matt. 22:30)

 

Hierdie duisend jaar van vrede op aarde is dus 'n tyd waarna elke kind van God kan en behoort uit te sien. Dit sal die rus wees na die arbeid en ook na die geweldige tyd van groot verdrukking en alles wat daarmee gepaard sal gaan. Dit sal die verkwikking wees na die sesduisend jaar van mensklike pogings tot ware vrede. Baie Christene vra dikwels die vraag: Waarvoor lewe ons dan nou eintlik? Natuurlik lewe ons vir Christus in die eerste plek, maar ook vir dit wat hy vir ons bewerk en beloof het. Die boodskap oor die duisend jaar van vrede is by baie ‘n feitlik onbekende (en daarom onbeminde) boodskap. Dit word verswyg van die kansels af, omdat daar blykbaar te veel verskillende sienings daaroor bestaan. Dit opsigself is eintlik ‘n minagting van God se onuitputlike vermoë om te kan kommunikeer met hulle wat Hy geskape het. Dit is waar dat die mens baie uiteenlopende sieninge oor sekere Skrifgedeeltes het, maar ons moet onthou God het net een siening. Hy is nie dubbelsinnig van karakter nie. Om so ‘n beskouing te huldig dat God ons in die duister wil laat oor sekere Bybelse waarhede, maak hoegenaamd nie sin nie en is 'n verskraling van wie God in sy Woord sê Hy is. Christene wat bv. nie in ‘n wegraping (salige hoop) voor die groot verdrukking en ook nie in ‘n letterlike duisend jaar van vrede glo nie, ontneem hulleself van ontsaglik baie seën en hoop. In so ‘n geval is dit makliker om jou oë van God af te haal en op die wêreld met sy begeerlikhede te fokus. (In die meeste gevalle is dit egter bloot omdat daar nog nie 'n behoorlike studie oor hierdie onderwerpe gemaak is nie.) Aan die anderkant is daar ongelukkig ook kinders van God wat wel in hierdie waarhede glo, maar die lewens vertel 'n ander verhaal. 'n Mens kan egter nooit 'n Bybelse waarheid wegredeneer net omdat sekere Christene wat dit skynbaar glo 'n twyfelagtige lewe lei nie. God sal hulle op die regte tyd die regverdige loon gee wat hulle verdien. Die Woord staan egter vas en kan nie verander nie. Daarom moet ons fondasie altyd in die Skrif gesetel wees en nie in mense en wat hulle doen nie. Die mens verander maklik, maar God en sy Woord nooit ! (Matt. 24:35). Om gereeld aan hierdie tye van verkwikking te dink en dit te verwag, is eintlik niks anders as om aan Jesus Christus te dink en Hom te verwag nie. Hy gaan sentraal staan in dit alles en wil daarom juis hê dat ons oë te alle tye op Hom gerig sal wees (Heb. 12:2). Die duisend jaar van vrede is dus in die eerste plek ‘n Christusverheerlikende tyd. Dit is ‘n proklamasie van sy reeds behaalde oorwinning aan die kruis op Golgota. Hierdie sal 'n glorieryke tydperk wees. Aan God al die eer vir die wonderlike beloftes in sy ewige Woord.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

17

 

 

 

 

 

DIE WERKLIKHEID VAN DIE HEL !

 

 

 

 

"die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele."

(Matt. 25:41).

 

Miskien het jy ook al gewonder hoekom God hierdie wêreld op so ‘n geweldige klimaks laat afstuur. Dit is eintlik net genade, want die mens wil steeds nie leer wie God is en hoe hy handel nie. God sal eerder mense fisies laat sterf om daardeur nog andere geestelik te red van die ewige vuur. In swaar tye begin mense God soek. Die geskiedenis het dit al oor en oor geleer.

Baie mense het egter ongelukkig ‘n totaal verwronge siening van wat die hel is waarvan die Bybel praat. Sommige reken dit is die Satan se hel wat hy berei het vir die wat nie in God glo nie en dat hy mense daar gaan terroriseer vir ewig. Ander reken weer dit is ‘n heerlike plek van sonde. Nog ander beskou die hel as niks meer as net ‘n Godverlate toestand nie - ‘n skeiding met die ware God. Sommige meen ook dat hulle reeds hel hier op aarde het en dat dit maar al is wat die Skrif daarmee bedoel. Nie een van hierdie sienings is hoegenaamd Bybels nie.

Jesus Christus self het omtrent sewe maal meer oor die hel gepraat as oor die hemel. Om die waarheid te sê daar is in die Nuwe Testament alleen meer as 162 verwysings na God se hel. Hiervan was meer as 70 deur die Here Jesus Christus self ! Dit verdien dus verseker ons aandag.

Baie vandag reken dat ons nie mense moet bang maak met die gedagte van die hel nie. As jy so ‘n siening het, dan is God mos eintlik die een wat ons wil bangmaak of hoe. Hy het tog aanvanklik die hel as ewige plek van oordeel in sy Woord geplaas. Beteken dit nou dat Hy nie ‘n God van liefde is nie? Nee, hoegenaamd nie. Hy het ons so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore hoef te gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Ja, Hy het uit absolute liefde sy enigste Seun wreed aan ‘n vloekhout laat sterf vir my en jou. Daar moes ‘n baie goeie rede gewees het hoekom Hy tot so ‘n drastiese stap moes oorgaan. Die feit van die saak is dat almal totaal verlore gebore is a.g.v. die sondeval. In Rom. 5:12 en 13 lees ons: "DAAROM, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het - want voor die wet was daar al sonde in die wêreld;" Net God self kon die oplossing bied en Hy het ook deur self mens te word en te sterf sodat ons deur sy sondelose bloed herstel en vergewe kan word as ons in sy Naam glo met ons hele hart. Soos daar al baie kere gesê is, die grootste bewys dat daar regtig ‘n hel is - ‘n ware poel van vuur, is die feit dat dit God sy Seun gekos het om ons daarvan te kom verlos. Jesus se kruisdood is die sekerste bewys van die realiteit en bestaan van die hel.

Die lewende God is geen dwaas wat so ‘n fout sou begaan het as daar niks was waarvan die mens verlos moes word nie. God se hel is natuurlik in die eerste plek gemaak vir die duiwel en sy mede gevalle engele wat teen God gerebelleer het. Daarna sal elkeen wat God se ontsaglike groot liefdesaanbod van die hand gewys het, ook regverdiglik in die poel van vuur gewerp word. Die Skrif is tog so duidelik oor hierdie saak.

Ongelukkig is daar deesdae bitter min mense wat nog in die bestaan van die hel glo. Ons hoor dikwels van nog teoloë selfs, wat die bestaan van ‘n letterlike hel ontken. Hierdie tendens om die bestaan van die hel te bevraagteken kom egter al ‘n baie lang pad. Charles Spurgeon, groot prediker van die vorige eeu, het dit daardie tyd al bemerk en het dit reeds in 1865 as volg opgesom:

"There is a deep-seated unbelief among Christians just now, about the eternity of future punishment. It is not outspoken in many cases, but it is whispered; and it frequently assumes the shape of a spirit of benevolent desire that the doctrine may be disproved. I fear that at the bottom of all this there is a rebellion against the dread sovereignty of God. There is a suspicion that sin is not, after all, so bad a thing as we have dreamed. There is an apology, or a lurking wish to apologize for sinners, who are looked upon rather as objects of pity than as objects of indignation, and really deserving the condign punishment which they have wilfully brought upon themselves. I am afraid it is the old nature in us putting on the specious garb of charity, which thus leads us to discredit a fact which is as certain as the happiness of believers."

Onlangs het die Pous gesê dat die hemel en ook die hel geen werklike of fisieke plekke is nie. Die hel is volgens hom ook net ‘n geestelike ‘toestand.’ Hy het verder bygevoeg dat mense wat "hulle aan ander gewy het", menende aan ander gode, ook hemel toe sal gaan (Rapport, 1 Augustus 1999). Al is daar nie regtig so ‘n plek nie?

Volgens die Anglikaanse Kerk se dokument, ‘The Mystery of Salvation’, is die hel bloot die "choosing of that which is opposed to God so completely and absolutely that the only end is non-being."

(The Christian Conscience, Oktober 1996).

Dit is verbasend hoedat die berugte Satanic Bible (p. 33) van die nou oorlede Anton LaVey, dieselfde te sê het oor die hemel en die hel:

"There is no heaven of glory bright, and no hell where sinners roast. Here and now is our day of torment! Here and now is our day of joy! Here and now is our opportunity! Choose ye this day, this hour, for no redeemer liveth." Die vader van die leuens aan die woord !

Natuurlik is dit nie wat die Woord ons leer nie. Hierdie is net nog ‘n ontduiking van die werklikheid van die hel as ‘n ewige plek van vuur en swael. Die mens wat Christus verwerp gaan beslis nie ophou bestaan nie, maar gaan ‘n opstandingsliggaam - ‘n onsterflike liggaam ontvang. In Op. 20:12 lees ons hoedat die dode (geestelike dode) klein en groot voor God sal staan. In Op. 14:11 sien ons dat die pyniging van die onweergeborenes vir ewig sal aanhou en dat hulle dag en nag geen rus sal hê nie. Dit kan slegs gebeur as iemand vir ewig gaan lewe, maar wel in die hel. Al wat eintlik van belang is, is of jy God se Woord glo of nie. Sonder geloof kan niemand God in elk geval behaag nie (Heb. 11:6).

As ‘n mens nou gaan kyk na die gedeelte in Luk. 16 wat handel oor die ryk man en Lasarus, dan word dit baie gou duidelik dat hierdie woorde geensins ‘n gelykenis is wat bloot simbolies geneem kan word nie. In Jesus se gelykenisse word daar nooit spesifieke name genoem nie. Hier lees ons egter van Lasarus in die hel asook van vader Abraham in die hemel. Daar is ook ‘n verwysing na Moses en die profete wat in geen ander gelykenis van Jesus voorkom nie. Hierdie was ‘n ware verhaal van ‘n man wat God nie geken het nie en net op sy geld en besittings vertrou het. Miskien was hy nog die ryk jong man wat vroeër nie van sy besittings wou afstand doen om Jesus te volg nie. Hierdie Lasarus het ook geleef in die hel of doderyk, want hy het uitgeroep dat hy smarte ly "in hierdie vlam." (Luk. 16:24).

Baie mense vrees die hel of die duiwel, maar laat totaal na om God te vrees. Dit (die vrees van die Here) is egter die beginsel van die wysheid en ook van kennis volgens die boek Spreuke. Jesus Christus het self gesê dat ons nie hom moet vrees wat die liggaam kan doodmaak nie, maar veel eerder Hom wat die liggaam sowel as die siel kan verderwe in die hel - dit is vir God. Hierdie tipe vrees is ook meer ‘n ontsag vir God, respek en agting asook ‘n heilige eerbied. Die Woord leer ons verder duidelik dat ons nie ‘n "gees van vreesagtigheid" (2 Tim. 1:7) ontvang het nie. Dit is dus nie so ‘n tipe vrees teenoor God waarvan die Bybel praat nie.

‘n Aantal jaar gelede het daar ‘n opspraakwekkende berig in ‘n Finse koerant, Ammenusastia (Augustus 1989), verskyn. Die berig is herhaal in die Weekly World News van 24 April 1990 en het o.a. die volgende rare inligting bevat oor ‘n span meestal Russiese geoloë wat in wes-Siberië besig was om ‘n gat in die aardkors te boor. Op ‘n diepte van nagenoeg 15km is ‘n vreemde ontdekking gemaak:

"As a communist I don’t believe in heaven or the Bible but as a scientist I now believe in hell," said Dr. Azzacove. "Needless to say we were shocked to make such a discovery. But we know what we saw and we know what we heard. And we are absolutely convinced that we drilled through the gates of hell!"

Dr. Azzacove continued, ". . .the drill suddenly began to rotate wildly, indicating that we had reached a large empty pocket or cavern. Temperature sensors showed a dramatic increase in heat to 2,000 degrees Fahrenheit."

"We lowered a microphone, designed to detect the sounds of plate movements down the shaft. But instead of plate movements we heard a human voice screaming in pain! At first we thought the sound was coming from our own equipment."

"But when we made adjustments our worst suspicions were confirmed. The screams weren’t those of a single human, they were the screams of millions of humans!"

Is dit wat die man hierbo beskryf het enigsins Bybels, is moontlik nou ‘n vraag wat gevra sal word. Ja, verseker. In Efes. 4:9 lees ons dat Jesus Christus voordat Hy na die hemel opgevaar het "eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde"

In Matt. 12:40 lees ons ook hoedat Jesus self gesê het dat Hy sal "drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees." Ons lees ook in 1 Pet. 3:19 dat Christus "heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis," In hierdie verband lees ons ook waar hierdie plek was waarheen Christus neergedaal het. In Judas vers 6 sien ons dat God hierdie geeste of gevalle engele "vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;" Die Engelse King James Bybel is ook baie duidelik oor waar die hel of doderyk tans is: "Though they dig into hell ... " (Amos 9:2). Dit is in die aarde !

In The Birmingham News van 10 April 1987 lees ons die volgende insiggewende nuus: "‘Earth's Center Hotter Than Sun's Surface, Scientists Say’ - The earth’s inner core has a temperature of over 12000 degrees Fahrenheit!" Dit wat ons in die Bybel lees is dus geheel en al wetenskaplik verantwoordbaar. Ons moet onthou dit is die Woord van die God wat die hemel en aarde self gemaak het.

As ons na die boek Numeri gaan, sien ons weereens dat hierdie dinge hoegenaamd nie vergesog is nie. Ons lees daar oor Datan en Abiram en hoedat hulle na die doderyk afgedaal het nadat die aarde sy mond oopgemaak het (Num. 16:32,33).

Die feit van die saak is dat die hel ‘n absolute werklikheid is en dat niemand dit kan wegwens of wegredeneer nie. Die Bybel sê vir ons, in die woorde van Jesus Christus self, dat die hel ‘n plek is van:

 

- "vuur" Matt. 7:19, 13:40, 25:41

- "ewige vuur" Matt. 18:8, 25:41

- "ewige oordeel" Mark. 3:29

- "helse vuur" Matt. 5:22, 18:9, Mark. 9:47

- "oordeel van die hel" Matt. 23:33

- "opstanding van die veroordeling" John 5:29

- "vuuroond" Matt. 13:42, 50

- "onuitbluslike vuur" Mark. 9:43, 45

- "waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie"

Mark. 9:44, 46, 48

- "geween" en "gekners van tande" Matt. 13:42, 50

Jesus Christus behoort te weet waarvan Hy praat. Hy het ‘n baie duur prys betaal en groot hemelse heerlikheid verlaat om die probleem te kom oplos. Sal ons dan ag gee op sy onfeilbare Woord en ons tot Hom bekeer.

In Op. 20:14 en 15 lees ons: "En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp."

Dit is ‘n werklikheid. Kyk na die volgende laaste woorde van bekendes - woorde wat op hulle sterfbeddens geuiter is:

 

- "I am in the flames" - David Hume, ateïs

- "I am lost! I clearly see it!" - Charles IX van Frankryk

- "I am standing before an awful leap into utter darkness!" - Hobbes, filosoof

- "Untill this moment I thought there was neither God nor hell. Now I know both are a reality, and I am facing damnation through the just judgement of the Almighty One!" - Thomas Scott, Britse politikus

- "There must be a God. He will punish me because of my sins!" - Jagoda, sekretaris van die Russiese geheime polisie

- "Please, burn all my books! Behold, the Holy One! He has been waiting for me for a long time. He is here!" - Jaroslawski, president van die Internasionale Ateïste Beweging

(‘Letzte worte grosser manner’, West Europa Mission).

 

Die laaste woorde van Christus was: "Dit is volbring!" (Joh. 19:30).

Waar gaan jy wees ?

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

18

 

 

 

 

 

DIE HEERLIKHEID VAN DIE HEMEL

 

 

 

 

"Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat hom liefhet." (1 Kor. 2:9).

 

Om te dink aan die hemel is vir ons byna te veel. Die blote gedagte daaraan is asemrowend. Daar is egter baie wat meen dat so ‘n utopiese plek net in drome bestaan en ander weer reken dat ons alles in die stryd moet werp om self hemel hier op aarde te bewerk. Dit is so dat ons nie in hierdie tydelike bestaan die konsep van die ewige hemel en die heerlikheid daarvan eers naastenby ten volle kan begryp nie, maar die vraag bly egter: Wat sê die Woord van God oor die hemel en die tyd hierna?

Baie vroeg in die Bybel, om die waarheid te sê, in die heel eerste vers van die Skrif, lees ons wanneer die hemel geskape is, nl. "In die begin het God die hemel en die aarde geskape." (Gen. 1:1). Die hemel was nie van altyd af daar nie. Nee. God was en is wel van ewigheid af daar - Hy is nooit geskape nie, maar die hemel is wel deur Hom geskape. Die hemel is op dieselfde tyd geskape as die aarde. So sê die Skrif. Die hemel is in die begin geskape - die begin van tyd. Die aarde is ook aan die begin van tyd geskape. Voordat die hemel en die aarde geskape is, was daar geen tyd nie. Die ewigheid was voor dit en die ewigheid sal na dit ook wees. Die huidige hemel gaan egter op ‘n dag verbygaan - dit sal ophou bestaan. In Matt. 24:35 lees ons dat die hemel en die aarde verby sal gaan. Net die woorde van God sal nooit verbygaan nie. Dit is ongelukkig beslis nie wat die meeste Christene vandag glo of besef nie. In 2 Pet. 3:10,12 sien ons baie duidelik dat "die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan" en spesifiek ook dat die "hemele deur vuur sal vergaan." Dit klink byna vreemd, maar tog gaan dit gebeur. Ons sien verder in Jes. 34:4 en Op. 6:14 dat die hemel op ‘n dag sal wegwyk en uiteindelik soos ‘n boek toegerol sal word. Die woorde van Ps. 102:26-28 vertel die hele verhaal: "In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos ‘n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk, en hulle verdwyn. Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie."

Uit die Skrif kan ons ook duidelik aflei dat daar drie hemele is waarna deurgans verwys word. Eerstens die lug bo ons, soos wanneer daar verwys word na die ‘voëls van die hemel.’ Tweedens die sterre-hemel en derdens die hemel as huidige woonplek van God - die plek waarvandaan Christus neergedaal het na die aarde, toe Hy Homself so uitermate verneder het vir ons. Die apostel Paulus is op ‘n keer weggeruk na hierdie "derde hemel." (2 Kor. 12:2).

In die boek Esegiël lees ons van die verbysterende gesig, wat hierdie profeet van die Here, van die hemel en ook van God gehad het. ‘n Eseg. 1:4 lees ons: "Toe het ek gekyk - en daar het ‘n stormwind uit die noorde gekom, ‘n groot wolk met onophoudelike vuur; en ‘n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter." Hy gaan dan voort en vertel van die vier lewende wesens wat hy gesien het - ‘n beskrywing van God in sy verskillende fasette.

Interessant dat hierdie stormwind juis uit die noorde afkomstig was. In Jes. 14:13 lees ons ook van die woonplek van God "op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde." Sien ook Job. 26:7,11. Esegiël vertel egter verder wat hy gesien het: "En daar het ‘n stem gekom bo van die uitspansel af wat oor hulle hoof was; ... En bokant die uitspansel wat oor hulle hoof was, was iets wat soos saffiersteen gelyk het, in die gestalte van ‘n troon; en op die troongestalte ‘n gestalte wat soos ‘n mens gelyk het. Ek sien toe iets soos blinkende metaal; van wat soos sy lendene gelyk het boontoe soos vuur, rondom in ‘n omhulsel gevat; en van wat soos sy lendene gelyk het ondertoe, het ek iets gesien soos vuur met ‘n glans daaromheen. Soos die gedaante van die boog wat in die wolk is op ‘n reëndag, so het die glans rondom gelyk. So het die verskyning van die heerlikheid van die HERE gelyk. En toe ek dit sien, het ek op my aangesig geval en die stem gehoor van Een wat spreek." (Eseg. 1:25-28).

Wat ‘n beeld van die lewende God en sy woonplek. Hierdie gedeelte stem baie goed ooreen met die gesig wat die apostel Johannes gesien het en waarvan ons lees in die boek Openbaring.

In die boek Jesaja lees ons die aangrypende gedeelte oor die roeping van die profeet Jesaja en hoedat hy sy volk moes gaan waarsku. Hy het ook die hemel gesien en dit soos volg beskryf: "ek [het] die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het. Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol! En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword. Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare gesien!" (Jes. 6:1-5). Die absolute heerlikheid en heiligheid van God in die hemel het die profeet Jesaja totaal oorweldig en daarom kon hy nie anders as om hierdie woorde te uiter nie.

Dit is interessant hoedat beide Esegiël en Jesaja (en later ook Johannes in Openbaring) vir ons beskryf hoedat God op ‘n troon van engele sit. In Ps. 18:11 lees ons ook hoedat Dawid God beskryf: "En Hy het op ‘n gerub gery en gevlieg;" en dan weer in Ps. 99:1 lees ons: "Die HERE is Koning; laat die volke bewe! Hy troon op die gerubs;"

In die boek Daniël vind ons ook ‘n heerlike en besonderse beskrywing van God op sy troon, wat deur hierdie profeet vir ons op skrif nagelaat is: "Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ‘n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ‘n brandende vuur; ‘n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen." (Dan. 7:9,10).

Die woorde in Heb. 12:29, dat ons God ‘n "verterende vuur" is, kry hierdeur nuwe betekenis. In sy heilige teenwoordigheid kan net absolute geregtigheid inkom - daardie geregtigheid wat Christus vir ons, sy kinders, bewerk het aan die kruis. Alle nagemaakte, mensgemaakte geregtigheid of heiligheid sal deur vuur verteer word. Hierdie gesig van Daniël gee vir ons ‘n idee van wie God is en hoe dit in die hemel sal wees - in die teenwoordigheid van die lewende Here.

Paulus het geskryf oor ons hemelse woning waarna ons verseker mag en behoort uit te sien: "Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word," (2 Kor. 5:1,2). Die groot man van God, Abraham, is bekend vir sy uitermate groot geloof in God. Sy geloof was van so ‘n aard dat hy destyds al, duisende jare gelede, reeds "die stad verwag [het] wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is." (Heb. 11:10). Abraham het daardie tyd al die nuwe Jerusalem verwag en daarom het hy uit Ur van die Chaldeërs weggetrek na ‘n land wat God hom gewys het. Vandag, kort voor die wederkoms van die Here, is daar egter weinig kinders van God wat enigsins ‘n begeerte het om uit te sien na die huis wat nie met hande gemaak is nie. Die wêreld met sy dinge is vir baie net te bekoorlik en te wonderlik om aan so iets soos ‘n hemelse tuiste te dink. Paulus het verlang om heen te gaan, omdat dit volgens hom verreweg die beste sou wees, maar vandag wil Christene en nie-Christene nie van die hemel hoor nie. Sommige dink daar gaan net gesing word en dat dit eintlik, met respek gesê, vervelig in die hemel gaan wees. Sulke gedagtes is so ver van die waarheid. As God hierdie aarde so interessant en indrukwekkend geskape het, sal ons ons nie eers kan indink hoe asemrowend die hemel moet wees nie.

Paulus sê dat toe hy weggeruk is na die Paradys, het hy daar woorde gehoor "wat ‘n mens nie eers mag uitspreek nie." (2 Kor. 12:4). Het hierdie gesig van die hemel nie dalk iets te doen gehad met sy onblusbare ywer vir die saak van God tot en met sy dood nie? In Heb. 12:22,23 lees ons van die hemelse Jerusalem en wel van "die feestelike vergadering en die gemeente van die eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is," Wat ‘n vooruitsig vir elkeeen wat waarlik weergebore en in Christus is. Die apostel Johannes het ‘n gesig van Jesus Christus in die hemel gehad wat baie nou ooreengestem het met die van Esegiël en Daniël. Hy het sewe goue kandelaars gesien "en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens ... Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, ... en sy stem soos die stem van baie waters." (Op. 1:12-15). In Op. 4:2-6 het Johannes nog meer van die hemel gesien: "daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon. En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag. ... En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand; en voor die troon was daar ‘n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter."

Enige dag kan ons hierdie troonsaal binnestap en is ons gereed om hierdie almagtige heilige God te ontmoet? Elkeen wat sê hy of sy is ‘n Christen moet op een of ander stadium hieraan dink.

In die hemel sal sekere dinge vir altyd verby wees. Ons kyk na dit wat die Woord ons hieromtrent vertel, na die dinge wat tot in ewigheid nooit weer daar sal wees nie:

 

1. Daar sal GEEN see wees nie

2. Daar sal GEEN trane wees nie

3. Daar sal GEEN dood wees nie

4. Daar sal GEEN droefheid wees nie

5. Daar sal GEEN moeite wees nie

6. Daar sal GEEN tempel wees nie

7. Daar sal GEEN son wees nie

8. Daar sal GEEN maan wees nie

9. Daar sal GEEN nag wees nie

10. Daar sal GEEN sonde wees nie

11. Daar sal GEEN geslote deure wees nie

12. Daar sal GEEN vervloeking wees nie

(Op. 21:1,4,22-25,27 en Op. 22:3).

Ons sal ook nie meer dink aan die dinge wat tevore was nie en dit sal nie meer in ons hart opkom nie - geen negatiewe of slegte gedagtes ooit weer nie (Jes. 65:17).

Die volgende heerlike dinge sal egter wel in die ewigheid daar wees:

 

1. ‘n Nuwe hemel

2. ‘n Nuwe aarde

3. ‘n Nuwe stad Jerusalem met:

Twaalf poorte van pêrels en

Twaalf fondamente

4. ‘n Straat van suiwer goud soos deurskynende glas

5. ‘n Suiwer rivier met water soos kristal

6. Die boom van die lewe wat twaalf keer per jaar vrugte dra

7. Die Lam (Christus) as die lamp om die stad te verlig

(Op. 21 en 22).

Die vraag is, gaan jy daar wees? Is jy gewas in die bloed van die Lam?

- Is dit die moeite werd om die ewigheid prys te gee vir ‘n bietjie, uiters kortstondige, tydelike plesier?

- Hoekom nou die wêreld dien as jy eendag in elk geval vir God in die hemel gaan dien?

- Hoekom nou nog vashou aan sinnelose, niksseggende dinge as jy dit vir ‘n ewigheid nie meer sal kan doen nie?

- Hoekom 70 of 80 jaar lank die duiwel dien en dan hoop dat jy in die hemel sal kom en daar God vir ewig sal wil dien? Hierdie lewe is nie die einde van alles nie. Nee, dit is maar net die BEGIN !

Hierdie lewe is net ‘n proeftydperk vir die ewigheid wat wag.

Die wederkoms sal hierdie proeftydperk afsluit en dan begin die res van jou lewe.

Elkeen wat die Here ken, sal ingaan in die heerlikheid van die hemel !

Om te dink ons sal Noag en Henog en Moses in die hemel ontmoet en Abraham en Isak en Jakob. Ook Josef en Elia en Dawid en Daniël. Ja, ook vir Petrus en Johannes en Jakobus en natuurlik ook vir Paulus. Bo dit alles egter sal ons Jesus ontmoet en ons sal die merke in sy hande en voete kan sien en ons sal weet dat ons uiteindelik tuisgekom het.

 

 

VERLIGTE OË VAN DIE VERSTAND

 

Kan alles oor die sg. eindtyd werklik waar wees of is dit maar net wensdenkery ? Hoekom glo almal in die wêreld dan nie dat die wederkoms naby is nie ? Om hierdie en ander vrae te beantwoord, moet ons onsself tot die geïnspireerde Woord van God wend, wat ‘n besliste antwoord in die verband gee. Paulus sê vir die gemeente van Efese dat hy nie ophou om vir hulle te bid nie "dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is;" (Efes. 1:17,18). Die Heilige Gees van God beskik oor al die kennis en wysheid wat bestaan. As ons dan weergebore is en God in gebed aan hierdie beloftes herinner, sal Hy antwoord en sy lig oor ons laat skyn. Nooit sal ons in die duister hoef rond te tas nie. Elkeen wat soek, sal vind en vir elkeen wat klop sal oopgemaak word. Ten spyte van al die negatiewe dinge in hierdie wêreld, sal ons dan die ‘hoop van sy roeping’ begryp. Ons sal ook besef dat hierdie wêreld soos dit vandag is, nie ons ewige tuiste is nie, maar dat ons kan uitsien na die ‘heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges’. Die Heilige Gees verlig die oë van ons verstand sodat ons kan verstaan dit wat in die Woord geskrywe is. Ongeveer een derde van die Bybel bestaan uit profesieë en tot dusver is elke een daarvan nog tot op die letter vervul. Die Here sê in Op. 3:18 Hy raai elkeen aan wat nie kan sien nie, om salf te koop "om jou oë te salf, sodat jy kan sien." Hierdie salf is die Heilige Gees en hoe sal die Vader dan nie die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid nie (Luk. 11:13). Elkeen wat steeds sê dat alles maar bloot is soos dit vroeër was, het sonder twyfel die salf van God nodig - die Heilige Gees, om daardeur te verkry die verligte oë van die verstand. Elkeen wat kan sien, moet egter versigtig wees dat sy of haar oë nie stadig besig is om toe te val nie. Die Bybelse opdrag in 1 Thess. 5:17, nl. "Bid sonder ophou", was nog nooit so van pas as vandag nie.

 

Die almagtige, alwetende God sê in sy onfeilbare Woord die volgende heerlike en vertroostende woorde:

 

"Roep my aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie." (Jer. 33:3).

Wees opreg van hart en toets God hieraan, Hy sal jou nooit teleurstel nie.

 

 

 

 

‘N UITNODIGING NA DIE BRUILOF

 

 

Daar is slegs EEN manier om hierdie uitnodiging te aanvaar. Dit is verder definitief gratis, maar geensins maklik nie. Dit word ook slegs bekom deur genade, maar is beslis nie goedkoop nie. Dit hang alles af waar jy ingegaan het, want die Skrif sê: "Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind."

(Matt. 7:13,14).

Daarom "stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie."

(Luk. 13:24).

 

 

 

Jesus Christus het dit duidelik gemaak hoe om by hierdie nou poort in te gaan toe Hy gesê het:

"Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word,"

(Joh. 10:9).

Hy het egter net gekom om dié te soek en te red wat verlore is (Matt. 18:11), m.a.w. elkeen wat erken en verstaan dat hulle nie sonder God kan voortbestaan nie. Is daar dan sommige wat nie verlore is in sonde nie ? Die Skrif antwoord duidelik: "almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God," (Rom. 3:23). Ja, "daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie." (Rom. 3:10). Maar wat van al die goeie mense op aarde ? Is daar dan nie baie goeie mense nie ? Die Skrif verklaar reguit en eenvoudig: "Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie." (Rom. 3:12). Mense is goed in mekaar se oë, maar verseker nie in die oë van ‘n volmaakte God nie !

Wat is dan die oplossing ?

Die Woord maak dit baie eenvoudig: "As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;" (Rom. 10:9). Dit behels egter nie net ‘n geloof aan ‘n historiese Christus wat eenmaal op aarde geleef het nie. Nee, dit behels ‘n geloof in die hele Woord van God, want Jesus Christus is self die vleesgeworde Woord (Joh. 1:14). Hierdie selfde Jesus het gesê: "As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar." (Joh. 14:23).

 

Wat dan is die ewige lewe? Jesus het tot sy Vader in die hemel gebid en gesê:

"En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het." (Joh. 17:3).

Ken jy hierdie God? Ons kan Hom ken deur sy Woord. Dit is die ewige lewe. Hierdie lewe is skaarser as diamante. Dit is meer kosbaar as fyngoud. Dit kos niks om te verkry nie, maar tog kos dit alles. Dit is ‘n nuwe lewe. ‘n Nuwe begin. Die ewigheid saam met God en sy Christus is die beloning. Niks op hierdie aarde kan daarmee vergelyk word nie, maar jy kan dit net verkry terwyl jy nog op hierdie aarde is.

Vandag is die dag om hierdie lewe te soek !

 

Die uitnodiging staan steeds na tweeduisend jaar:

 

"En die Gees en die bruid sê: kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet."

Op. 22:17

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

BIBLIOGRAFIE

 

1. A Cup of Trembling - Jerusalem and Bible prophecy, 1995, D. Hunt

 

2. All roads lead to Rome ?, 1993, M. de Semlyen

 

3. Christianity in crisis, 1993, H. Hanegraaff

 

4. Circle of Intrigue, 1995, T. Marrs

 

5. Cultural Aspects of Marriage in the Ancient World, Jul.-Sept. 1978,

Bibliotheca Sacra

 

6. En Route to Global Occupation, 1992, G.H. Kah

 

7. Evidence for a young world, 1996, Dr. D.R. Humphreys

 

8. Global Tyranny ... Step by Step - The United Nations and the Emerging New World Order, 1992, W.F. Jasper

 

9. Guardians of the Grail ... and the men who plan to rule the world, Revised Edition 1991, J.R. Church.

 

10. Hidden prophecies in the song of Moses, 1991, J.R. Church

 

11. How close are we ? - Compelling evidence for the soon return of Christ, 1993, D. Hunt

 

12. Israel in die eindtyd, 1991, Prof. J.S. Malan

 

13. Klippe en fossiele, 1995, Dr. C. Wieland

 

14. Moriel Ministries, J. Prasch, Internet - www.moriel.org

 

15. ‘n Studie oor die wederkoms van Christus en die eindgebeure, 1999,

Ds. H. Prinsloo

 

16. Occult Invasion - The subtle seduction of the world and church, 1998, D. Hunt

 

17. Openbaring se boodskap vir die jare 90, 1991, Prof. J.S. Malan

18. O Timothy, Vol. 9, No. 1, 1992, D.W. Cloud

 

19. Prophecy in the News, J.R. Church, Internet - www.prophecyinthenews.org

 

20. Racing Toward the Mark of the Beast, 1994,

P. Lalonde & P. Lalonde

 

21. Searching the Universe, Millennium Alert, Januarie 2000, D. Stanton

 

22. Signs of Christ’s Return, 1987, Dr. J.F. MacArthur, Jr.

 

23. That Amazing Book, T. Watkins, Dial-The-Truth Ministries

 

24. The Answers Book, 1991, Dr. C. Wieland, Dr. A. Snelling, K. Ham

 

25. The Forgotten Spurgeon, 1966, I. Murray

26. The King is Coming, 1981, Dr. H.L. Willmington

 

27. The Two Babylons, 1858, A. Hislop

 

28. The Wycliffe Bible Commentary, 1962

 

29. Toekomstige Wêreldgebeure, 1948, Ds. C.W.M. du Toit

 

30. Understanding End Times Prophecy, 1995, Prof. P.N. Benware

 

31. Understanding the New World Order, (Updated 1991), R. Livesey

 

32. Way of Life Encyclopedia of the Bible and Christianity, 1997,

D.W. Cloud

 

33. When the Trumpet Sounds, 1995, Dr. Thomas Ice en Dr. Timothy Demi (Redakteurs), bydraes deur 22 professore en doktore aan Amerikaanse universiteite, teologiese kolleges en seminariums.

 

34. World Book Encyclopedia, 1989

 

35. World Scripture, United Communities of Spirit, 1991,

Dr. A. Wilson (Redakteur)

 

 

INFORMASIE EN HULPMIDDELS

 

 

Die skrywer se Bybels-profetiese nuusblad, Eindtyd Bulletin, word al vir byna 5 jaar uitgegee. Dit is ‘n blad wat huidige wêreldgebeure in Bybelse perspektief bring.

Dit kan bekom word van: Posbus 13395, Noordstad, 9305

Intekengeld: R60 per jaar vir 8 uitgawes

 

‘n Dokument, Die Woord van God vs Die 1983 Vertaling, oor die grondtekste van die Bybel en die weglating van verse en woorde uit die nuwe vertalings, kan ook van bg. adres bestel word.

Dit is saamgestel deur D.J. Erasmus en J.J. Labuschagne.

Lees dit ook op die Internet: www.bybel.freeservers.com/main

 

ADRESSE VAN BELANG

 

(Die skrywer stem nie noodwendig saam met elke detail van die onderstaande bedienings nie, maar kan hulle materiaal wel aanbeveel as baie leersaam en geestelik verrykend).

 

 

SKEPPING VS EVOLUSIE

 

VIDEO SEMINAAR IN 7 DELE en veel meer

Creation Science Evangelism (Dr. Kent Hovind)

c/o 29 Cummings Road

Pensacola

Florida, 32503

USA

Internet: www.drdino.com

 

VIDEO REEKS IN 6 DELE

Origins: How the World Came to Be

15 Wetenskaplikes met o.a. Prof. A.E. Wilder-Smith (3 doktorate in natuurwetenskappe)

Eden Communications

1832 S Macdonald

Suite 101,Mesa AZ

85210, USA

CREATION MAGAZINE ens.

Creation Science Information Service

P. O. Box 562066

Chatsworth

Durban

4030

 

 

MISLEIDING EN ONDERSKEIDING IN DIE KERK

 

The Berean Call (Gratis nuusbrief van Dave Hunt)

P.O. Box 2336

Krugersdorp

1740

Internet: www.thebereancall.org

 

Kerugma Produksies (Bill Randles e.a. - Videos & Boeke)

Posbus 1367

Kuilsrivier

7579

Internet: www.kerugma.org.za

 

Way of Life Literature (David Cloud)

1701 Harns Road

Oak Harbor

Washington

98277

USA

Internet: www.wayoflife.org

 

 

BYBELPROFETIESE INSIGTE

 

Prophecy in the News (J.R. Church)

P.O. Box 7000

Oklahoma City

OK, 73153

USA

Internet: www.prophecyinthenews.org

Bestel onderstaande video ook van hulle:

DEATH BY ENTERTAINMENT

‘How the Media manipulates the masses’

Nuwe skokkende video oor Hollywood en Televisie se invloed

 

 

CHRISTELIKE ‘ROCK’ MUSIEK

 

What is wrong with Christian rock? - BOEK

Jeff Godwin (self vroeër ‘n ‘rock’ sanger)

The Rock Ministries

P.O. Box 2181

Bloomington

Indiana, 47402

USA

 

Contemporary Christian Music Under the Spotlight (1998) - BOEK

David. W. Cloud (Sien Way of Life Literature vir adres)

 

 

AFRIKAANSE PREKE OP AUDIO KASSET (OOK VIDEOS)

 

(Ds. E. Zevenster oor die boek Openbaring, Daniël en veel meer)

Tygerberg Kassetdiens

Posbus 4321

Tygervallei

7536